OM GOD TE SPEEL OF NIE


Dit lyk my dat wetenskaplikes asook politici deesdae God wil speel of gelykstaande aan Hom wil wees. Die afgelope week het genetici en ons eie president die wêreld behoorlik aan die gons gehad. Wetenskaplikes het lewe suksesvol gekopieer deur kunsmatige genetiese stof in ‘n leё bakterie-sel te plaas. Hulle het dit dus reggekry om ‘n nuwe sel te laat groei en volgens die nuwe stel DNS-instruksies te laat funksioneer. Artificial life. Trouens, enige denkende mens kan die etiese implikasies hiervan sien.

Ons president het verlede naweek by ‘n biddag in Mpumalanga gesê: “Die ANC was anders gebore as enige ander politieke party. God was by met die ANC se geboorte.” Die ANC is dus God se oogappel party. Beteken dit dat die duiwel by die geboorte van die ander partye teenwoordig was? Hy het kerkleiers daarna aangesê om hul lede te vermaan om vir die ANC te stem. In dieselfde asem sê hy dat indien hulle nie vir die ANC stem nie, hulle voorvaders hulle met siektes gaan straf. Maak dit van hom ‘n nuwe soort engel Gabriel of uitverkorene van God? Het hy aan die etiese implikasies van sy stellings gedink? Nie lank gelede nie het Zuma hom nog op God beroep en nou beroep hy hom op die voorvaders. Dis seker waarom ons eie lewe asook ons samelewing lyk soos hulle lyk. “Dis boosheid,” meen 'n vriend van my. Om te dinge te vererger, het die Vrystaatse premier, Mnr. Ace Magashule, gesê die ANC tref nie onderskeid tussen swart en wit nie. My vriend was ontsteld juis omdat hy benadeel word as gevolg van die beleid van regstellende aksie wat deur die einste “oogappel” party ingestel was. Reversed apartheid. God onderskei mos nie tussen Sy kinders nie. Dis valsheid. Volgens Karl Barth, die grootste Christelike denker van die twintigste eeu, het die bose verskillende gesigte. Barth beskryf dit op drie maniere; as trots, as valsheid – en as traagheid. My vriend stem saam. Hy meen die onlangse stakings wat die ekonomie ‘n lelike knou gegee het, is ‘n goeie voorbeeld van traagheid. Traagheid beteken natuurlik slap en lui. Werkers wat meer geld wil hê, maar te lui is om te wees wat hulle kán wees. ‘n Engelse gesegde sê: “a Journey of a thousand miles begins with a single step.” “But not with a toyi-toyi,” grom my vriend. Met minder as twee weke oor voor die afskop van die 2010 Fifa wêreld-beker staak daar steeds duisende werkers. Volgens die nuutste syfers het die landbou sektor tot dusver verliese van meer as een biljoen rand gely. Alles dreig om in duie te stort!

Trouens, ons kan nie net agteroor sit en verwag andere moet iets daaromtrent doen terwyl ons g’n vinger verroer nie. Ek onthou Annelie Botes se wyse woorde oor die huidige uur en die toekoms. Sy sê: “Ons moenie te intens dink oor tien of twintig jaar vorentoe nie. Die huidige uur is genoeg. Want hierdie uur bepaal die rigting van die volgende uur.” Wat tans gebeur is ‘n aanduiding dat die mensdom in sy brose menslikheid losgeraak het. ‘n Smeerseltjie gom is nodig om dit weer te las. Dalk kan ek en jy die gom voorsien. Annelie som dit so op: “Wie weet, eendag dra die granaatbome vir almal in hierdie deurmekaar wêreld welverdiende vrugte met soetrooi pitjies."

©2010 Selwyn Milborrow

No comments:

Post a Comment