NASIETROTS IN SOWETO


Hallo antie. Almal het mos deesdae ‘n blog of “bloek” soos Koos Kombuis sê. Ek sien antie s’n was lanklaas ge-update. Ek sien ook antie skryf vir ‘n paar weke nie meer op ‘n Maandag nie. Ek het begin wonder of antie dalk siek is of iewers in ‘n tjoekie sit. Nog voor die wonder my kon oordonder sien ek antie se brief “Hangtong-Annelie op 14 Junie terug” in verlede Saterdag se koerant. Ek sien toe in my geestesoog hoe antie se vliegtuigwiele lig en antie van Afrika losskeur. Hopelik nie Engeland toe om ponde te verdien, of om by ’n brug in Londen af te spring nie. Nobody promised us tomorrow, maar ek weet Antie gaan in tyd terug wees vir Fifa se Wêreld-beker-toernooi. Ek kan al antie by die lughawe se aankomssaal hoor: “See me, I am here!”

Vandat antie ondergronds gegaan het om te rus en te kyk of jy van voor af kan uitvind wat jou eie naam is, het daar so baie goeie goed gebeur. Jirre, antie mis uit big time! Daar was drama in Soweto die afgelope naweek. Nee, geen beelde van klipgooiende jeugdiges of die sekuriteitspolisie in die strate nie. Hierdie keer was onluste deur patriotisme vervang. Die Stomers en die Bulle het verlede Saterdag mekaar in die Super 14-eindstryd in Soweto by die spreekwoordelike horings gepak. Wat ‘n riller! Daar was duisende mense van alle kleure en geure met vlae, stoele, vuvuzelas en ‘n nasietrots wat skrik vir niks. Die magtige dreuning van wit en swart wat bankvas agter hul spanne staan was iets om te aanskou. Nasiebou was die groot wenner. Is dit nie ironies dat sokker rugby na Soweto gebring het nie? Loftus was as gevolg van voorbereidings vir die Fifa wêreld-beker-toernooi nie beskikbaar nie. Antie, na ‘n lang droogte het alle Suid-Afrikaners mekaar weereens verbaas met hul gebaar van nasiestrots. Wat ‘n welkome verligting na maande se negatiewe nuus en harde woorde. Soos met die rugby wêreld-beker in 1995 toe oud-pres. Nelson Mandela ‘n sportprestasie kon omtower in ‘n kragtige voertuig vir nasiebou, het Suid-Afrikaners dit hierdie keer sonder die visioenêre leierskap van ‘n staatshoof gedoen. Daar was selfs wittes wat die wedstryd in sjebiens in die hartjie van Soweto gaan kyk het. Ons weet dat die krag van sport as nasiebouer nie volhoubaar is nie, maar dis darem ‘n begin. Gaan politici hierdie geleentheid met albei hande aangryp? Goeie vraag.

Ek wonder of die mense wat ons land vir oorsee verruil het, besef dat hulle op ‘n stukkie geskiedenis uitmis. Vriend Vincent Oliphant stel dit so mooi in sy verse: “my woorde kan bloot bid/ en pleit/ en wens/ medeburgers van die lewe/ dat ons van grense sal vergeet/ en bloot mens sal wees/ en medemens.” Hopelik kom antie terug. Die ou gryse gaan seker met opwinding antie by die lughawe inwag met die hoop dat antie uitgerus is en antie kon uitvind wat antie se eie naam is. Dalk het die ou gryse plan beraam om te verhoed dat antie weer die pad gaan vat. Uit desperaatheid gaan hy dalk die probleem met ‘n spuitkan oplos. Teen die muur van die aankomssaal in rooi verf spuitverf “Wamkelekile, my vroutjie!”

No comments:

Post a Comment