DRIE BRIEWE AAN MY "WIT ANTIE" ANNELIE
BRIEF EEN
Liewe antie Annelie. Dis ek, jou bruin broer. Dit voel soos gister toe ek laas vir antie geskryf het. Ek hoop dit gaan nog goed met antie en die ou Gryse in Northriding. Ai, die stories wat ek vir antie wil vertel! Ek kan nou nie soos antie stories in die teeblare lees nie, maar ek kan darem ‘n paar koppies saam met antie drink terwyl ek myne vertel.
Ek het die afgelope paar maande heelwat mense raakgeloop wie wou weet waarom ek dan nie meer in die koerant met antie correspond nie. Ek het tot dusver weggekom deur te smile en te sê ek is te besig met my eie struggles. Ek het besluit om maar te skryf want hier in Suid-Afrika raak die struggles nooit op nie. Ek was voor 1994 in die struggle, maar bevind myself nou in meer struggles as voorheen. Vandag rig ek my eerste skrywe sedert 2005 aan antie. Ek het intussen ‘n bietjie grys haartjies bygekry en hou hulle darem swart met die dye. Daar is mos inderdaad net een ou Gryse. Of hoe? Soos antie weet beleef ons elkeen maar sy eie alsbitter seisoene op hierdie lewenspad. Toe ek laas aan antie geskryf het was toe my pa oorlede is. Antie het seker ‘n paar maande gelede my rubriek gelees waarin ek oor my oorle pa skryf. Ek het intussen agtergekom die herinneringe oor ‘n gestorwe geliefde raak net soeter, en die pyn bietjie minder. Die klem natuurlik op “bietjie”.
As ek nou terugkyk na al die wyse woorde en advies wat antie met my gedeel het, besef ek van watter onskatbare waarde dit is. Dankie, antie. Het antie die afgryslike dinge oor die Livingstone-hospitaal gelees? Jirre, dinge het rêrig nie verander nie!
My pa het gedurende sy laaste dae op aarde in daardie dêm plek gelê. Vandag nog kom daar steeds ‘n woede in my op as ek dink hoe hulle my pa daar ge-treat het! Dis ‘n alsbitter pil wat niemand graag wil sluk nie. Genadiglik is daar goeie herinnering oor my pa wat vir my ‘n happy-pil sal bly.
Wanneer laas was antie daar? Ek onthou hoe disgusted antie was oor die bloed en pie op die hospitaal se vloere toe antie en die ou Gryse daar was. Daai Dora hospitaal is glo netso gevaarlik. My hart gaan uit na al die vroutjiekinders wat boeppens is. Die meeste verloor hul babies of hul eie lewens in daai plek.
Ek hoor nou die dag in die taxi ‘n omie vertel hoe die nursie hom ge-ghal het omdat hy sy vroutjiekind se baby gaan visit het. “Daai nursie vat ons ou mense vir moegoes. Sy dink net omdat ek ‘n hawker is en my vrou in die erf werk dat sy ons soos skroplappe kan treat. Mense soos daai dink mos net omdat hulle dik poste het hulle kan nie ge-fire word nie. I’ve got news for her! My oudste seun is ‘n dik ding by ‘n fabriek in die Baai. Hy gaan ons op sy medical aid sit,” spog hy soos 'n regte ticket. Ek is bly vir die omie, maar nêrens kry mens meer goeie nuus nie. Dis net aardbewings en tenders waar jy kyk. Die regeerders en geregeerders beskuldig mekaar in die koerante en op TV dat dit klap. Waar gaan alles eindig, antie? Dit voel asof my tong aan my verhemelte wil vassit van magteloosheid. Ek skryf oor ‘n paar weke weer vir antie. Dan vertel ek jou van die vergete heldinne van die Baai. Nag, ou Gryse.
BRIEF TWEE
Liewe antie. Ek wonder wanneer antie weer gaan blog. Almal het mos deesdae ‘n blog of b(l)oek soos Koos Kombuis sal sê. Ek update my blog wanneer ek ‘n kansie kry. Ek sien antie s’n was drie jaar laas ge-update. Dis so asof antie van die blog vergeet het? Dalk beweeg antie teen ‘n rustiger pas of verkyk jou aan die voëls op die spitsdakhuis se nokke. Ek onthou tog dat antie nie 'n mens vir stilsit is nie. Stilsit is mos bitter vir antie. Anyway, dis nie waaroor ek wil gesels nie.
Ek het onlangs ‘n bietjie navorsing gaan doen oor die goeie werk wat die ander anties in die gemeenskap doen. Sommige is in hul herfsjare, maar steeds doenig. Ek het gaan inloer by Waradeya Bosch, ons eerste bruin senior matrone by die Livingstone-hospitaal. Mens kan sien sy is nie meer aan die stuur van dinge daar nie; sy’t in 1997 afgetree. Volgende was Jumartha Majola, die ma van Gerald Majola, die president van S.A. Krieket. My volgende stop was by Lilian Diedericks. Ek het so baie aan antie gedink toe ek by haar gaan kuier het. ‘n Vrou van imborste, soos Oubaas sal sê. 'n Starlight in die donkerte. ‘n Oumagrootjie wat steeds vroegoggend by ‘n wasgoeddraad haar vrou kan staan. Dit is as gevolg van haar en baie ander dapper vroue dat ons vandag Vrouedag kan vier. Sy het die Oos-kaap verteenwoordig toe vrouens op 9 Augustus 1956 Unie-gebou toe gestap het. Vandag is sy steeds ‘n sterk en beginselvaste mens. Sy vertel my hoe sy haar kleindogter op haar een en twintigste verjaardag vermaan het om in die weë van die Here te bly. Sy het sommer net daar haar kleindogter se kêrel voor honderde gaste gewaarsku dat hy hom nie jags moet hou rondom haar kleinkind nie! Lilian het gelag toe sy die skok op my gesig sien.
Lilian het sakke en sakke sout opgeeët. Daai jare moes sy as voorwaarde op haar banning order vir meer as sewe jaar by die Korsten polisiestasie raporteer. Die sekuriteitspolisie was so vasbeslote om haar toe te sluit dat hulle besluit het sy moet weekliks by die Algoa Park polisiestasie gaan raporteer. Dit was meer as twintig kilometer van haar huis af! Lilian het elke week per voet deur bosse en grondpaaie gestap om uit die tronk te bly. Om te dink ander vroue het vir ontspanning gaan stap, maar sy moes vir haar lewe stap! Wanneer sy praat kon ek sien daar is nog pyn wat na die oppervlak dryf. Haar suster wie nes sy gelyk het, is in die sewentiger-jare op raaiselagtige wyse vermoor. Sy is oortuig die sekuriteitspolisie het haar suster met haar verwar.
Die kerk en haar vriende wou nie met haar verbind word nie omdat hulle bang was vir die goewerment. Sy kon nie na prysuitdelings en ouer-aande by haar kinders se skool gaan nie. Tog het Lilian nie haar rug op die kerk en haar mense gedraai nie. Sy wou nie met bitterheid in haar hart leef nie. Sy meen mens sal binne doodgaan as gevolg van die gif van jou eie bitterheid. Haar toewyding tot gelykte regte vir vroue is onlangs erken toe die Nelson Mandela munisipaliteit die Bristerhuis-gebou na die Lilian Diedericks-gebou hernoem het.
Nou kry ek ‘n blink idee. Antie doen so baie vir die letterkunde en die “Van alle kanters”. Hoekom verander die body corporate by Northriding nie die kompleks na die Annelie Botes kompleks nie? Hoe klink dit? Miskien moet ek antie se ou Gryse hieroor kom sien. Tot wederom.
BRIEF DRIE
Liewe antie. Die ander dag luister ek na Radio sonder grense se program, Loslip waarin inbellers gesels oor die dae toe families mekaar nog op Sondae middae kon gaan kuier. Deesdae durf niemand meer op Sondae tussen eenuur en vyfuur bel of kuier nie. Antie het self gesê dis ongeskik. Antie het seker net van vreemdelinge gepraat, of hoe? Mens verwelkom mos enige tyd jou eie bloed, al is dit op ‘n Sondagmiddag. Veral as dit jou ver-kinders is. Ek onthou antie se oulike storie van die ou gryse toe hy nog “mainspyker van die trustees was”. Die boorlinge van North Riding het sommer Sondae middae kom aanklop met klagtes of om advies te vra. Die ou gryse het dan dadelik sy broek uitgepluk, sy onderbroek skeef geskuif en gaap-gaap die voordeur oopgemaak. Ja-nee, weinig mense het dit wéér gewaag om op ‘n Sondagmiddag te gaan raad soek. Antie, ek soek raad op vandag. Hoe kry mens dat families weer mekaar op Sondae middae kuier? Is dit moontlik in hierdie digitale eeu? Of is Facebook, Twitter en al die ander sosiale netwerke miskien die nuwe Sondagmiddag kuier met familie en geliefdes? Tot wederom. Nag, ou Gryse.
©2010 Selwyn Milborrow
Subscribe to:
Post Comments (Atom)
No comments:
Post a Comment