MONOLOOG VAN 'N EENSAME
Eens op ‘n tyd kon ek ‘n verskietende ster vang nog voor dit die aarde tref. Dit in ‘n boks plaas en met ‘n strikkie toebind en as dankoffer gee - net vir jou. Só kon jy die omgee in my oë sien. Dit in die winternagte op jou vel voel as my lippe op jou kom lê. Met net die trek van my mond of oë kon jy sien as iets pla. En as jy my vra was ek laaste om te glo. Maar dit was vir my nog altyd makliker om die seer in ink te laat uitvloei as om met gestolde dinge te lewe. Met jou was hierdie wêreld ‘n beter plek om in te leef. Doemprofete het egter in die diepe nag in my oor kom fluister dat skadus die hoekies van my hart kom beset het. “Kan dit waar wees? het ek jou gevra. Jy was nie daar om die diep skemergille aan te hoor en te antwoord nie. Net stilte. ‘n Malmakende stilte.
Om te dink elke keer as jy verskyn in die spieël van my gewete word dit ‘n muur waarteen ek my kop stamp. Al keer ek hoe kwaai loop ek my vas in plekke waar ons was. Dit is ‘n sonde om jou só lief te hê. Dit is asof ek jou aanraak in als wat ek raak vat. Soms loop ek my vas teen jou foto in ‘n koerant of in ‘n bekende restaurant. Soms bietjie, soms baie. Byna elke aand hyg my hart in stegies van ‘n wegholdroom, maar steeds kan ek die hasejag nie ontglip nie. Hoe kan ek aanhou voorgee dat ek sonder jou kan leef wanneer ek weet dat dit ‘n leuen is? Diep binne my weet ek dit is ‘n sonde om aan herinneringe oor jou vas te hou. Dis juistemint dié soort ding wat my noop om op te hou met sandkastele bou. Ek moet omdraai netsoos jy omgedraai het soos sigaretrook weg van my. Hoekom? Want daar is ‘n realitieit; die stilte is bewys dat jy my lankal vergeet het. Ek moét leer om van jou te vergeet. Wanneer trane begin val sal ek - moet ek - dink aan al die seer wat jy my gebring het. Van vandag af gaan ek my hart leer om nie meer lief te hê nie. Om nie meer seer te kry nie. Ek het vir lank geweier om op te hou vasklou aan hoop – vir ons, my en jou ontwil. ‘n Mens kan mos nie groei en gedy sonder hoop nie. Maar hierdie eens blommende energie het begin taan. Noudat ek in die genade van ‘n onbekende nag lê en wag vir jou om soos ‘n reddingspan my uit hierdie puin van wanhoop uit te grawe, voel dit asof ek vir ewig in die lug hang. Dit is hoé vinnig jy die mat onder my uitgeruk het.
Vandag wil ek van hierdie hurt locker ontslae raak. Van vandag af gaan ek begin leef vir môre. Een ding sal my egter altyd bybly. Jy’t jou vingerafdrukke agtergelaat in my:
Gedig: brief
dit was nog altyd makliker
om die seer in ink te laat uitvloei
as om met gestolde dinge te lewe
soms kon ek die omgee sien
dit op my vel voel
as jou lippe op my kom lê
só moes jy seker voel
toe jy jouself oorgee
aan die streling van my hande
dit kon 'n lieflike nag gewees het
maar noudat ek lê
in die genade van 'n onbekende nag
(en wag vir 'n somber dagbreek?)
voel dit asof ek
vir ewig
in die lug
hang
só vinnig is die mat onder my
uitgeruk
©2010 Selwyn Milborrow
Subscribe to:
Post Comments (Atom)
Hierdie is die mooiste Monoloog wat ek nog ooit gelees het!
ReplyDeleteWOW!!!!!
ReplyDelete