VAN ALLE KANTE (DIE BURGER)
‘n Gebaar deur drie wyse manne duisende jare gelede op Kersdag, is verlede week deur miljoene Christene sowel as ander gelowiges as ‘n tradisie voortgesit. Om te gee – veral op Kersdag - is ‘n onbaatsigtige daad wat diep uit die hart kom. Ongelukkig sien ‘n mens dit nie weer totdat die volgende Kerstyd aanbreek nie. Die wyse manne se geskenke was nie net vir Jesus bedoel nie, maar ook as ‘n danksegging aan God omdat Hy sy seun as losprys gestuur het om ons vry te koop. My pa was lief om die liedjie “Why can’t everyday be like Christmas” te sing.
Van Kleintyd af het ek hom leer ken as iemand wie sy laaste pennies vir hulpbehoewendes sou gee. Elke dag was Kersdag. Vandag gee mense liewer op in plaas van om. Die Nuwejaar lê nou voor. Die bevoorregtes gaan die feestelike tyd tot duskant 2de Nuwejaar vier. Daar is ongelukkig sorgbehoewende kinders wat hierdie Feestyd liewer sal wil vergeet. Afgesien van Die Burger-Kersfonds en talle ander inisiatiewe is daar duisende minderbevoorregtes wat steeds met leё magies gaan slaap. Wat word van hulle? Dis waar die opportuniste toeslaan. Dwelmhandelaars, bendes en pedofiele. Hulle slaan munt uit die hulpbehoewendes se haglike omstandighede deur hulle te misbruik. ‘n Groot gebeurtenis soos volgende jaar se Wêreldbeker-sokkertoernooi, is maar een van talle geleenthede.
Sowat ‘n jaar gelede het ek ‘n storie vertel van hoe die Grahamstadse Nasionale Kunstefees as ‘n afsetplek vir hul dwelms en alkohol gebruik word. As boorling van Grahamstad, was die kunstefees vir Annie, ‘n tiener, ‘n soort Feestyd. Dis wanneer motors met vreemde numberplates Grahamstad binnery. Sy het dit eers vreemd gevind dat haar niggie ‘n ander houding inneem jeens die players wat hul dorp jaarliks op horings kom neem. “Die Josters met hul dik karre en vet wallets maak my siek,” het haar niggie gekla. “Julle province is mos die armste; so, wees dankbaar wanneer ons julle elke jaar ‘n financial injection kom gee,” het een van die players teruggekap.
Annie se niggie het ‘n jaar tevore ‘n ryk ou by die fees ontmoet. Hy was ‘n dwelmsmous. Dit was tydens haar onbeplande swangerskap dat sy verneem het sy is MIV-positief. Daar is iets omtrent die mans van Jo’burg wat Annie ook nie kon weerstaan nie. Dis asof die basklanke uit die karre se loudspeakers iets in haar kon losmaak en haar wild laat voel. Haar niggie het haar telkemale gewaarsku. Dieselfde naweek stel hy nuwe dwelms en alkoholiese drankies aan haar voor. Dit het ‘n euforiese uitwerking op haar, maar Aubrey het sy dosis verdubbel om die dieselfde gevoel van euforie te ervaar. Sy het opgelet dat hy gewig verloor het sedert sy hom laas gesien het. Hy was humeurig en kortaf. Die laaste dag van die fees het hy haar ge-drop. Hy is ‘n maand later dood aan Vigs. In my verbeelding sien ek die impak wat dit op Annie se lewe het: Haar gesondheid verswak en sy moet gereeld mediese behandeling ontvang vir ‘n onophoudelike hoes. Haar niggie is nie verbaas toe die kliniek haar inlig dat Annie ook MIV-positief is nie. Annie besef op haar siekbed dat voor jy kan ontvang, móét jy iets inruil daarvoor gee; sy het haar gesondheid verruil vir plesier van korte duur. Haar laaste boodskap aan ons almal is: Kom ons gee om in plaas van op.
No comments:
Post a Comment