ERFGELD EN LIEG-STORIES

Ons weet almal teen hierdie tyd dat president Zoempie inderhaas sy belange moes verklaar nadat hy die 60-dag spertyd gemis het. Die regerende party het wel verskoning gemaak, maar ook gevra dat die poligamis se omstandighede in ag geneem moet word. Volgens ‘n woordvoerder het hulle ‘n “spesiale saak in dié dat ons ‘n president met ‘n groot familie het en dus is dit nie maklik nie.” Gmf, dis nie net ‘n swak verskoning om goed skelmpies weg te steek nie, maar boonop geniaal van hom om nog ekstra tyd te vra om dit te doen!

Het ek julle lekker opgewarm nou? Ontspan maar, ek wil vandag oor iets anders skryf. Dit gaan eintlik ook oor mense wat andere se goed vat. Erflatings!
Dit en lieg-stories het sedert die Bybeldae al menig ‘n verhouding versuur. Dink maar aan hoedat Jakob vir Esau verneuk het.
As tjokkertjie moes ek al soveel maal hoor hoe ek eendag as oudste seun, erfgeld sou kry na my oupa se dood. Wel, die dood het gekom en die testament het gegaan! Dis ‘n kwessie van die erfgeld het seker beland in die hande van iemand vir wie dit nie bedoel was nie.

Toe Robert Pearce, hoofbibliotekaris by die Nelson Mandela- Metropolitaanse Universiteit onlangs Jan Rabie se boek Polemika, in my hand stop het ek aan die erflating herrie rondom die skrywer Andre P. Brink gedink. Wat ek hier met die lesers deel het niks met die persoon van Brink te doen nie. Kom ek begin by MC Botha se ope brief aan Brink.
Botha, ‘n eertydse buurman en lewenslange vriend van Jan en Marjorie Rabie kon nie verstaan waarom Brink - wat so goed met albei van hulle bevriend was - by wyse van spreke munt wou slaan uit hul nalatenskap nie. Hy skryf “wát jou rede is – ’n rede wat boonop in jou binnekamer klaarblyklik deur jou hoër geag is as dié van ’n waarlik geldlose skrywer – kan ek my nie indink nie.” Botha beweer Marjorie het vir hom gesê ná háár dood sal hul erfgeld in ’n trustfonds gestort en deur ‘n universiteit bestuur word sodat ’n behoeftige student jaarliks daaruit voordeel kan trek.

Na die lees van Rabie se Polemika, wonder ek hoe hyself hierop sou reageer. In sy boek (sowat vyftig jaar gelede geskryf) vat hy in van sy briewe, verskeie skrywers en academici aan. Ek sien in my geestesoog hoe hy óók Brink aanvat oor die redes waarom hy aansoek vir die beurs gedoen het. Ek sien hoe Rabie sy brief aan Brink afsluit: “so maklik is dit darem nie.”

Ek dink opnuut aan my oupa se erfgeld en wonder of ek nie ook dalk ‘n ope brief aan die blikskottel moet skryf wat my erfgeld gevat het nie. Maar aan wie rig ek dit? Wie is die Andre P Brink in my oupa se nalatenskap? Hopelik e-pos hy/sy my met redes waarom ek hy/sy dit gedoen het. Daar is die Malema-opsie: “Ek “weet nie” hoe ek die erflating gekry het nie”, of iets soos: “as enigiemand kan bewys dat ek iets verkeerd gedoen het, kan julle my in hegtenis neem.” My reaksie sal wees: “as jy jouself kan vergewe, kan ek jou vergewe.” Dalk antwoord ek iets soos: “so maklik is dit darem nie!”

No comments:

Post a Comment