GEDIG VIR PATRICK PETERSEN (Ingesluit: Foto van Robert Pearce met Patrick Petersen)

elegie vir ‘n digter

(vir Patrick Petersen 1951-1997)

ek is ‘n doodgewone ou
wie die reënboogkleure meng
en ‘n huldeblyk verf
nét vir jou

só swaar om protes en pyn
deur jou pen te voel vloei
tog was dit vir joú
ver verhewe bo vers en kwatryn

noú wil ek jou prentjie skilder
op die doek van die mensdom
wat nooit sal afskilfer

want ál onthou ek
die gehuil van ‘n pen
versteen in ‘n oomblik
toe bloed en metaal meng
weet ek ook jỳ
kon jou oë in vrede sluit
met jou laaste huistoery

٭Patrick Petersen was ‘n dominee, digter en uitgewer. Hy het in ‘n motorongeluk gesterf op 6 Junie 1997.

©2010 Selwyn Milborrow


Met die vergunning van die digter, Robert Pearce, plaas ek sy gedig wat hy aan sy vriend en kameraad, Patrick Petersen opgedra het.

Patrick
(6 Julie 1951-7 Junie 1997)
"Inkie ek het nie goeie nuus nie, Pat is oorlede."(Ingrid Geldenhuys in De Kat)

Pat,
vertel my van daai pyn
wat so vlak lê in donker oë.

Vertel my van diep-inbors-geboesemde lag
wat weier om spontaan te ontspring.

Deel met my jou hartseer van onbeantwoorde liefde
Van 'n Dominee se dogter wat nie meer loop oor Pastorievloer.

Vertel my hoekom jy soos Holly en Valens
ook jonk moes gaan?

Is dit te veel gevra Broer?

Vertel my die pyn van 'n Swart Afrikaanse Skrywer
wat as halfnaaitjie (sic) misken was
asook hoekom jou "honderdjarige merk" as Skrywer
kort geknip is na 46 jaar?

Is dit te veel gevra Broer?

©28/10/97 Robert Pearce

No comments:

Post a Comment