DIE WêRELD IS ONS WONING NIE

Die wêreld is ons woning nie - (Rubriek)

Ek het onlangs ‘n artikel van Abel Kraamsaal met groot waardering gelees. Hierin skryf hy oor die brûe wat musiek tussen verre en nabye wêrelde help bou. In sy rubriek “Vrypostig” sê hy: “Musiek is die ritme waarop die hele wêreld vibreer. Musiek is wat wêrelde nader aan mekaar bring. Musiek is wat vir my die ver nader bring.” Hy is in die kol. Dis presies hoe biskop T.D. Jakes gevoel het toe hy Afrika vir die eerste keer besoek het. In Jakes se geval was dit egter nie musiek nie, maar geloof wat twee wêrelde nader aan mekaar bring. Biskop Jakes, is ‘n senior pastoor by die Potter’s House gemeente in Amerika.

Die muse het Abel Kraamsaal sowat twee en ‘n half jaar gelede vanuit die Kaap na die Baai gelok met beloftes van avontuur en “die onbekende wat agter die volgende bult wag.” Vir Jakes was dit geloof wat hom na Afrika gelok het. Vir hom het die onbekende toe heel bekend geword. Hier het hy gesien dat sy medemens tog ook mens is. Inderdaad twee wêrelde, maar dieselfde mense.

Soos baie ander Amerikaanse rolprentsterre het dit ook vir Jakes met sy aankoms by OR Tambo lughawe gevoel asof hy huis toe gekom het. Kraamsaal skryf: “Partykeer vang ek myself dat ek van die Kaap praat as huis. Gelukkig is daar vliegtuie, wat jou kan vat na daardie ander wêreld.” Die onbekende wat eintlik tog so bekend is.
Jakes het ook besef dat jy altyd mense sal ontmoet, maar die stories bly dieselfde. Jakes het glo gesê: “I’ve now been in South Africa for two days and the country has really impressed me. In general, South Africa’s tough history has left many people thinking that it’s just another impoverished and God-forsaken African country, but I can honestly say that South Africa has surpassed all my expectations. It feels like home!”
Vir ons almal is daar nou net een brug wat oorbly. ‘n Brug wat ons sal oorsteek en ons na ‘n mooier en vredevolle plek vat.
Apostel Paulus noem dan ook dat ons bywoners is op soek na ’n stad met fondamente. Met ons oë op die eindstreep gerig gaan ons uithou, moedhou en aanhou. “We will run to that crown that will last forever,” sê Paulus. Gepraat van wêrelde. Ek dink aan een van my pa se geliefkoosde aanhalings. My oorlede pa het altyd gesê: “I expect to pass through this world but once; any good thing therefore that I can do, or any kindness that I can show to any fellow creature, let me do it now; let me not defer or neglect it, for I shall not pass this way again.”

Daar is ‘n bekende gedig van Totius waarin hy reken die wêreld is ons woning nie. TD Jakes het sekerlik nooit Totius se gedig gehoor nie, maar dit klink asof hy saamstem met Totius se stelling. Vir Jakes gaan sy evangelie werke daaroor om ‘n brug te skep tussen hierdie wêreld en die Hemel. Dit maak nie saak waar Abel Kraamsaal, TD Jakes en ons onsself op hierdie aarde bevind nie, een ding is seker; ons is in hierdie wêreld, maar nie van hierdie wêreld nie. Ja, Hemel is ver hiervandaan, maar my geloof is wat die ver nader bring.

No comments:

Post a Comment