ROBERT PEARCE: ACADEMIC, WRITER & MUSICIAN

Robert Pearce, akademikus, dramaturg, digter en musikant, het hom vroeёr vanjaar by die department Biblioteek-en-Inligtingsdienste van die Nelson Mandela Metropolitaanse- Universiteit (NMMU) aangesluit as Direkteur (Hoof) van die Biblioteek. Selwyn Milborrow het met hom gesels.

Robert Pearce was tot einde Maart vanjaar verbonde aan die Universitieit van Suid-Afrika se Biblioteekdienste as Direkteur Kliëntedienste - ‘n pos wat hy vir 9 jaar beklee het.
As Akademiese Bibliotekaris is hy goed toegerus vir sy taak by NMMU aangesien hy onder andere ‘n Meestersgraad in Biblioteekkunde en ‘n Diploma in Kliëntediens van Unisa het.

Hierdie man met sy vele talente is bekend vir sy dramas oor lewe in die bruingemeenskap. Sy drama–oeuvre strek oor byna vyf en dertig jaar. In sy graad 11-skooljaar het hy saam met Philip Louw, sy eerste drama, From hippie to normal: the story of sinners and the birth of Jesus Christ, geskryf. In teenstelling met Shakespeare se Macbeth, waarin die bewussyn van trauma met die voorstelling van ‘n indiwiduele personasie verbind word, verbind Pearce die ervaring van trauma in sy tekste met die indiwidu as lid van ‘n gemeenskap. Sy mees onlangse toneelstuk was, The charter (in search of quality, culture and service excellence), wat in 2007 in die Z.K. Matthews saal van Unisa opgevoer is en wat ook op DVD opgeneem is. In Pearce se toneeltekste is daar ‘n sterk teenwoordigheid van ‘n gemeenskapsbewussyn. Dit sluit onder andere in ‘n sterk plaaslike sosiale bewussyn van die voorkoms van dwelmmisbruik, prostitusie en bendebedrywighede.

Ek wou by Robert weet of daar vandag enigsins veranderinge ten opsigte hiervan in die gemeenskappe te bespeur is. Prof. JL Coetser het ‘n interressante artikel in die South African Theatre Journal gedurende 2008 gepubliseer getiteld: Gemeenskapstoneel deur Robert J Pearce: aspekte van bewussyn wat oor jou gemeenskapstoneel. In sy verkenning wat uit idees van Daniel Meyer-Dinkgräfe se monograaf getitel Theatre and consciousness: explanatory scope and future potential, asook verskeie ander tesisse kom, skryf hy van hierdie sterk teenwoordigheid van ‘n gemeenskapsbewussyn in jou toneeltekste.
Ek wou weet of bewusmaking van die plaaslike sosiale bewussyn steeds deel van jou toekomsplanne?
“Ja-nee, wie kan nou los skryf van jou voedingsbodem - jou gemeenskap wat ‘n kollektiewe geheue vorm. Selfs oud President Nelson Mandela in die voorwoord van sy boek A Prisoner in the garden verwys daarna:, hy sê, “the memory of an individual is founded in the collective memory”. Die oningeligtes oor kollektiewe geheue en bewussyn kan gerus die werke van Carl Gustav Jung en Etienne le Roux gaan lees.
Miskien sal dit verander, want die afgelope ses maande bevind ek my in Port Elizabeth, na ‘n leeftyd in Eersterust in Gauteng. Ek is juis besig om aantekeninge te maak oor kontraste tussen Port Elizabeth en Gauteng, soos byvoorbeeld die verskil in aksente, winkels wat hier vroeër sluit as in Pretoria, die reaksie op mense as hulle my sien in ‘n motor met ‘n GP registrasie, ensomeer. Die see en die minder gejaagdheid hier in Port Elizabeth is ook baie opletbaar.”

Pearce het skouer geskuur met die grotes in Afrikaanse literatuur-wêreld. Mens dink aan skrywers soos wyle Patrick Petersen, Adam Small, Peter Snyders, Diana Ferrus en vele ander. Watter skrywer het die grootste invloed op sy skryfwerk gemaak? “My betrokkenheid was ook al in die verlede by die Afrikaanse Skrywersgilde saam met Henning Pieterse en Zander Strachan, met Vernon February in Nederland, met Hein Willemse, Steward van Wyk, Peter Snyders en Adam Small deur die Swart Afrikaanse Skrywersbeweging (die struggle tydperk in Pretoria, Kaap, Paternoster en Vendaland), deur Speedro Produksies (ek en Anthony Speedo Wilson) en die betrokkenheid by voorgeskrewe werke vir skole van Kleurlingsake, met wyle Johan Combrink van Stellenbosch wat my geleer het om dinge te “doen vir Afrikaans” en nie net daaroor te praat nie.”

Wat van die kollektiewe geheue? “Ek is altyd (miskien selfs in my slaap) in my onderbewussyn in gesprek met Andrè P Brink, Koos Kombuis, Mzwake Mubuli, Patrick Petersen, Don Mattera, Dennis Brutus, Peter Snyders, Adam Small, Vernon February, Hein Willemse en my gemeenskap en dit weërspieel in my skryfwerk. Byvoorbeeld: Adam Small se Kanna hy Kô Hystoe en Joanie Galant-hulle (waarin ek rolle gespeel het) het die onderbou verskaf aan my drama: Die Laaste Supper in Marabastad; Andrè P Brink se Afrikaners is Plesierig het my geïnspireer om Die Meeting oftewèl vergadering te skryf. Koos Kombuis se liedjie: Sweet Paradise het aanleiding gegee tot my gedig: Lied vir Azania. Adam Small se gedig: Kitaar my Kruis en Frank Anthony se boek: Robben-eiland, my Kruis het my die titel van my gedig: My Taal my Kruis gegee. Na die lees van: Ek Daniel Marble, wat handel oor die Gangsters van Johannesburg, skryf ek: Die Laaste Marie-verhaal van ‘n Township Gangster.”

“My kortdrama: To Merge or not to Merge (2004) is ooglopend geleen vanaf Skakespeare se bekende: To be or not to be, uit Hamlet. My nuutste drama Doodstil: ‘n drama oor die dood vir die wat lewe, se titel is gegee deur ‘n begrafnisondernemer - sonder dat hy daarvan bewus was.” “Hoe dan so?” “Soos baie vroeë Afrikaanse skrywers is ek behep met die dood en begraafplase en was besig om die drama te skryf, maar kon nie ‘n titel vind nie. Ek stap toe verby die begrafnis-ondernemer (Ek noem hom in die Teks: Jakob Dood of Dooieman) se plek en hy sit droewig (hoe anders?) daar buite. Ek vra vir hom hoe gaan dit met die besigheid, en hy antwoord: “Doodstil!” Hy lag lekker. “Verder het ek ook terwyl ek die drama geskryf het, Zakes Mda se Ways of Dying gelees. Na die lees van Chris van Wyk se Shirley Goodness and Mercy, is ek besig om my Memoirs neer te skryf. Is ek dan net ‘n reaksionêre Skrywer?”

David Ernest, een van Robert Pearce se felste kritici, het sy Meestersgraad by die Universiteit van Pretoria in 2004 verwerf met sy tesis getiteld: Meaning in Small, Snyders and Pearce: an application of Lotman’s Semiotics to “coloured” literature. Hierin dui hy aan hoe die kollektiewe geheue en bewussyn regdeur die drama loop. Al drie dramas handel oor verskuiwings van mense onder die Groepsgebiedewet en sluit plekke in soos die Kaap en Pretoria. Die dramas is: Joanie Galant-hulle (Adam Small), Political Joke (Peter Snyders) en die Laaste Supper in Marabastad (Robert Pearce). Robert gesels oor Arthur Nortje, ‘n Baaise digter wat in ballingskap op die jeugdige ouderdom van 28 jaar, in Oxford gesterf het na hy vermoedelik ‘n oordosis slaappille geneem het. Een van Pearce se grootste bydraes tydens sy termyn by UNISA was die digitasie van die Arthur Nortje Papiere. Hy was dan ook die borg van die projek. Hy vertel bietjie meer hieroor. “Weereens moet ons nie die kollektiewe geheue onderskat nie. Dit is nie per toeval dat ek in Port Elizabeth (Arthur Nortje en Dennis Brutus se vormingsgebied) is nie. Ook is dit die plek waar baie van Athol Fugard se dramas afspeel. Tussen Arthur, Dennis en Athol se skrywery het ek in die 1980’s al bewus geraak van Port Elizabeth, sy mense en hul omstandighede. Ek het ‘n versameling van Arthur Nortje asook het ek kennis gemaak met Dirk Klopper (wat die Anatomy of the Dark bundle oor Arthur se poësie saamgestel het), Shaheed Hendricks wat ‘n wonderlike verhandeling oor Arthur geskryf het asook Hedy Davis wat die eerste verhandeling oor Arthur geskryf het. Shaheed was ook mede-outeur van South End as we knew it.

“Meer spesifiek oor my bewuswording van Arthur en sy poësie. As Openbare Bibliotekaris het ek in 1987 Arthur se Dead Roots (geredigeer deur Dennis Brutus) per geluk van die rak gehaal en begin lees. Die tragiek van sy lewe en die volwasse skrywery van ‘n 28 jarige het my dadelik aangegryp.
“Toe ek later by Unisa-biblioteek gaan werk en ook uitvind dat hulle in die argiewe Arthur se oorspronklikke handgeskrewe tekste en fotos het, was daar geen keer aan my blydskap oor die ontdekking nie. Ek ontmoet toe ook vir Dennis Brutus in 1995 en weer in 2006 en al waaroor ons kan praat is Arthur. Die personeel van die Argiewe by Unisa het aan my gerapporteer en ons besluit toe om Arthur se werke te digitaliseer en sodoende dit meer toeganklik maak vir die wye wêreld.” Dit was ‘n projek waaraan Pearce entoesiasties gewerk het. Onder sy leiding is hierdie droom in 2006 met die bekendstelling daarvan volbring naamlik: om Arthur Nortje se skrywes te globaliseer. “Wat seer maak is dat die onderwys en gemeenskapsleiers vir Arthur gefaal het. Baie min mense (selfs in Port Elizabeth) weet van diè groot skrywer wat geskryf het oor die lewe in Shauderville, Gelvandale, South End ensomeer. Sy klasmaats, ernstige skrywers en intellektueles van Port Elizabeth weet van hom, maar vra jy Jan-en-alleman, dan weet hulle niks. Selfs mense wat oorkant Paterson Hoërskool bly, weet niks van die seun van daardie skool wat in Engeland begrawe lê nie.”

Pearce het twee gedigte oor Arthur in Nederland gepubliseer: Kenneth Arthur Nortje (K.A.N) en Dood van Skrywers (in memoriam: Arthur Nortje, Bessie Head, Richard Rive en Ingrid Jonker). Hy meen almal wat bewus is van Arthur, sy lewe en sy skrywes het die taak om sy Oorskot na Suid Afrika terug te bring. As dit na 187jaar met Saartje Baartman kon gebeur, hoekom nie Arthur nie? Pearce hoop die Department van Kuns en Kultuur kan hier ‘n groot rol speel. “Jy en Patrick Petersen was nie net goeie vriende nie, maar julle het jul passie vir skryf gedeel. Patrick was bekend as ‘n versetdigter, dominee en besigheidsman. Jou gedig wat jy as huldeblyk aan hom opgedra het by sy begrafnis, lees soos ‘n biografie. Wat van Patrick staan vir jou uit en hoe sal jy hom graag wil laat onthou?” Hy glimlag vir ‘n oomblik. “Pat, soos ons almal hom genoem het, was ‘n Verenigde Gereformeerde Dominee en ‘n Orator. Daar is ‘n video-opname, die Sondag Digters wat Anthony Speedo Wilson vir die SABC gemaak het waar Patrick en die ander digters van die Ons kom van ver af digbundel praat en voorlees uit eie werke en daar kan ‘n mens luister na die groot Orator en Prediker. Pat het geen doekies omgedraai nie en was ‘n eerlike, deeglike skrywer en vakman. Ek het baie by hom geleer oor skryf en herskryf - nie slordig skryf as digter nie en ook om nie oneerlik te skryf nie. Hy het ook nie gewag vir die establishment Uitgewers om sy (en ander Swart Afrikaanse Skrywers) se gedigte te publiseer nie. Hy stig sy eie Uitgewery Prog, en gee sy eie en ander Aspirant Digters se bundels uit. Dit was uitsonderlik. Sy dood was ‘n groot verlies vir sy naasbestaandes, vir ons as sy vriende, die kerk en die Afrikaanse Skrywerswêreld.”

“Robert, in vorige onderhoude blyk dit dat tyd en ruimte vir jou belangrik is. In 2007 sê jy in ‘n e-posboodskap aan prof. JL Coetser, dat alhoewel Eersterust jou anker is, leef herinneringe aan voorstede soos Marabastad en Lady Selborne steeds in jou voort. Is dit nog so?” “Weereens, die kollektiewe geheue wat die onderbou verskaf vir my en menige ander skrywers se werke - nie die son, maan, of sterre (waar ons nog nooit was nie), maar die realistiese milieu - jou ervaringswêreld. As kind is ek verskuif deur daardie Groepsgebiedewet se toepassers vanaf Lady Selborne (wat as plakkerskamp geklasifiseer is en gesloop is), na Claremont (wat ‘n Sjinese gebied verklaar is), na Marabastad (Pretoria se eie Distrik Ses en South End) na Eersterust waar ons kinders steeds woon.” Volgens Pearce kan die gebondenheid aan jou “ruimte” jou ook kniehalter aangesien dit soms kreatiwiteit aan bande kan lê. “Miskien moet ek tog in die toekoms ‘n drama of gedig oor die maan skryf. Sal dit kan eg wees? Weet nie - glo ook nie. Oor eerlik skryf: so ‘n paar jaar gelede doen ‘n student ‘n onderhoud met my vir sy Doktoraat in drama oor waarom ek nooit ‘n gay-drama geskryf het nie. My antwoord was: “omdat ek nie ondervinding het nie.” Die navorser se bevinding was dat ek strewe na egtheid in my skrywes.

Prof. Ampie Coetzee, emeritus-professor in Afrikaans aan die Universiteit van Wes-Kaapland, het onlangs ‘n kontroversiele voorspelling gemaak dat Afrikaans as onderwystaal gaan uitsterf. ‘n Donker vooruitsig inderdaad. “Robert, jy en Afrikaans kom al sedert jou kleintyd aan. Hoe voel jy oor Afrikaans as ‘n taal wat deur oorwegend bruines en wittes gepraat, gelees en geskryf word? Kan ek dit waag om jou te vra hoe die toekoms van Afrikaans vir jou daartoe uitsien?” “Ek ken Ampie van UWK se dae af en hy, Hein Willemse en Steward van Wyk doen wonders vir Afrikaans. Ek kan nie saamstem met Ampie nie. Ek dink Afrikaans (in al sy vorme sal voortleef) en sonder om paternalisties te klink, het ons as Afrikaansprekendes ook ‘n rol te speel in die aanhelp van die ontwikkeling van die ander Swart amptelike tale. Verder, ons kinders is Afrikaans en ons kleinkinders van die ouderdomme 13, 7, 4 en 2 jaar praat Afrikaans. Hopelik sal hulle ouers hulle ook na ‘n Afrikaanse skool stuur, so daar is jou voedingsbodem vir ‘n volgende geslag Afrikaanses. Interessant ook is dat ons twee kleinkinders ook Sotho vlot praat. As Saketaal sal Afrikaans ook nie verdwyn nie, want as jy hoor hoeveel Indiër en Sjinese Sakemense Afrikaans praat word dit onderstreep, want geld het sy eie kleur - nie wit of swart nie.”

Hoe lyk die toekoms vir Robert Pearce? “Nog meer skryf, kitaarspeel, lesings oor en in die Afrikaanse taal lewer asook ‘n doktorsgraad in Biblioteekkunde doen.”
Toe ons groet dink ek aan ons onderhoud as ‘n sirkelslot van ‘n drama - oortuigend gemotiveer deur die treffende uiteenlopenheid van Robert Pearce se karakter. Soos Pearce hoop ook ek dat sy boodskap sal praat met die lesers se koppe én harte.

1 comment:

  1. Ek het dit besonders interessant gevind. Sal graag die drama, "Doodstil" in die hande wil kry? Ek het 'n Kultuurorganisasie, KAIROS wat nou ons eie dramagroep begin, en ons sal graag hierdie drama, met die toestemming van die skrywer wil opvoer.
    Groetnis
    Petro Rhode
    (plmrhode@yahoo.com

    ReplyDelete