LANGDOWN SKILDER MET OLIE EN SY HART

AMOS LANGDOWN skilder met olie – én sy hart. Hy is volgens een van sy voormalige kunsstudente, Selwin Pekeur, ’n briljante leermeester en wonderlike kunstenaar. Pekeur is die hoofkunstenaar op Die Burger se Suidoosterfees, wat van vandag tot oormôre in Kaapstad in die Kunstekaap-sentrum plaasvind.

Onlangs het Pekeur gesê: “Langdown het nooit die erkenning gekry wat hy verdien het nie.”
“As iemand ’n bewys soek van die helende krag van geloof, kan hulle gerus vir my kom vra,” sê Langdown en glimlag beskeie. Twee jaar gelede is longkanker by hom gediagnoseer, en hy het dié siekte ’n ruk gelede oorwin. Hy is besonder dankbaar om weer te kan skilder. Langdown en sy vrou, Edie, het groot lof vir die personeel van die Greenacres-hospitaal, waar hy behandel is.
Edie sê: “Dis lekker om te sien hoe prentjies in sy kop tot lewe kom in soveel kleure en vorms.”

Langdown skilder hoofsaaklik mense in hul daaglikse omgewing. Veral vroue en kinders staan sentraal in sy werk.
Waarom gebruik hy juis olieverf? “Dis nie net olieverf nie, maar die hart ook.”
Opvallend is sy sin vir humor en passie vir sy werk. Dat kopers gereeld terugkom, is ’n bewys van die gewildheid van sy werke. Ons was juis besig om te gesels toe ’n gereelde koper bestellings kom afhaal.

Langdown is op Plettenbergbaai gebore en het sy kunsopleiding aan die Zonnebloem-kollege in Kaapstad ontvang, waarna hy in 1963 in die skone kunste gaan studeer het aan die Rijks¬aka¬de¬mie van Beeldende Kunsten in Amsterdam. Hy was later dosent aan die Dower-opleidingskollege in Port Eli¬zabeth, waar Pekeur een van sy studente was.
Langdown stem saam dat alles begin by die vermoë om te teken. Dis ’n gawe van God. Hoe langer ’n mens met hom gesels, hoe meer besef jy dat hy reeds dekades gelede erkenning gekry het vir sy werke.

“Ek was al uitgenooi om van my skilderye in München, Uganda, New York en Londen en op die Venesiese Biënnale uit te stal. Van my werke is opgeneem in versamelings in Duitsland, Italië, Holland en die Smithsonian-instituut in Washington. Plaaslik is van my werke onder andere in die Alice–kunsgalery in Johannesburg uitgestal.”
Sy skeppings is in verskeie kunsboeke – soos Art and Artists of South Africa (Esmé Berman) en Zebra Register of South African Artists Galleries, Volume 3 – opgeneem. Langdown het illustrasies gedoen vir die skrywers Alba Bouwer, Pieter Grob¬belaar en Hester Heese asook vir die digter P.J. Philander.

Philander was Langdown se laerskool-onderwyser, en hy noem hom steeds “Meester”. Philander, nou woonagtig in Amerika, het Langdown onlangs kom besoek. “Die trane het behoorlik gerol,” terg Edie. Die Bruin Kokon, waarin hy die digkuns van Philander illustreer, het in 1965 die lig gesien.
Langdown se eerste uitstalling was in 1964 in die Edrich-galery op Stellenbosch – ’n eerste vir ’n bruin skilder. Bekendes in die literêre wêreld het die opening van die uitstalling bygewoon. Op ’n foto staan Langdown langs skrywers soos S.V. Petersen, Jan Rabie en W.A. de Klerk, wat ’n glasie op sy toekoms geklink het.

In 1966 het hy die Arts of Fame and Promise-prys verower. Vandag kan Langdown op ’n kleurryke loopbaan terugkyk.
’n Bekende glanstydskrif beplan om binnekort van sy werke in een van sy uitgawes te plaas. “Ek maak ’n goeie bestaan deur my skilderye,” sê hy tevrede.

Glad nie sleg vir iemand wie al jare gelede afgetree en die stryd teen longkanker gewen het nie. Daarvan kan die skilderye wat in sy portaal vir nuwe eienaars wag, getuig.


©2009 Selwyn Milborrow

No comments:

Post a Comment