LANGDOWN HET DIEP SPORE GETRAP

PORT ELIZABETH. – Die bekende skilder Amos Langdown is vandeesweek in die ouderdom van 75 oorlede. Hy het vermoedelik weens ’n hartaanval beswyk nadat hy ’n jaar gelede longkanker oorwin het.

Langdown is op Plettenbergbaai gebore en het hom later in Port Eli¬za¬beth gevestig, waar hy dosent aan die Dower-opleidingskollege was.
Selwin Pekeur, een van sy studente wat vroeër vanjaar die hoofkunstenaar op Die Burger se Suidoosterfees was, het onlangs gesê: “Langdown het nooit die erkenning gekry wat hy verdien het nie.”

Langdown het sy kunsopleiding aan die Zonnebloem-kollege ontvang, waarna hy in 1963 in die skone kunste¬ gaan studeer het aan die Nederlandse Akademie vir Beeldende Kunste in Amsterdam.
Van sy skilderye is onder meer in München, op die Venesiese Biënnale en in Uganda, New York en Londen uitgestal. Werke van hom is ook opgeneem in versamelings in Duitsland, Italië en Nederland asook in die Smithsonian Institute in Washington.

Plaaslik word van sy werke tans in die Kühne-Boekkooi-galery in Port Elizabeth uitgestal. Heidi Kühne, eienaar van dié galery, sê Langdown se dood is ’n groot verlies aangesien hy soveel spore getrap het in die kunswêreld en in die harte van mense.
Sy werke is opgeneem in kunsboeke soos Art and Artists of South Africa (Esmé Berman), en Zebra Register of South African Artists Galleries, volume 3. Hy het ook boeke van skrywers soos Alba Bouw¬er, Pieter Grobbelaar en P.J. Philander geïllustreer.

Philander, ’n bekroonde Afrikaanse digter wat verlede maand in die ouderdom van 84 in Amerika oorlede is, was Langdown se laerskool-onderwyser en het hom aangemoedig om in die kunste te studeer. Die Bruin Kokon (1965), ’n bloemlesing van Philander se digkuns geïllustreer met Langdown se kunswerke, was die eerste van dié aard deur bruin kuns¬tenaars. Sy eerste uitstalling was in 1964 in die Edrich-galery op Stellenbosch – ook ’n eerste vir ’n bruin skilder. Bekendes soos S.V. Petersen en Jan Rabie het destyds die opening bygewoon.
Lorette de Vos, ’n kunskonsultant wat jare lank met Langdown bevriend was, sê hy was ’n besonderse kunstenaar en ’n mens met ’n goeie humorsin.
Toe hy jare gelede gevra is waarom die vroue in sy werke nie glimlag nie, wou hy weet watter mens glimlag as jy ’n bondel hout op jou kop dra.

Hy sal onthou word as een van die nederigste skilders in ons land. Sy heengaan is ’n groot verlies vir kuns in Suid-Afrika. Hy word oorleef deur sy vrou, Edie, ’n dogter, Nadia, en drie kleinkinders.


©2009 Selwyn Milborrow

No comments:

Post a Comment