HULDE AAN DIGTER - P.J. PHILANDER

“MEESTER is weg.” Dit was Amos Langdown se eerste woorde aan Selwyn Milborrow toe hy die tyding van Peter John (P.J.) Philander (1921-2006) se dood ontvang het. ’n Onderwyser-leerling-kunstenaar-vriend¬skap van langer as 50 jaar het tot ’n einde gekom.

Philander (84), ’n bekroonde Afri¬kaanse digter en skrywer, is verlede Dinsdag in Amerika oorlede.
Langdown, ’n bekende skilder van die Baai, was vroeër ’n laerskool-leerling van Philander aan die St. Peter’s Engelse kerkskool op Plettenbergbaai in die Oos-Kaap.

Langdown – wat steeds na Philander verwys as “Meester”– vertel dat hy ’n briljante, maar ook streng skoolmeester was. “As ons stout was in die klas, het Philander altyd gewaarsku dat hy die duiwelsdrek uit ons gaan foeter.” Volgens Langdown het Philander hom aangespoor om verder in die kunste te studeer.

Philander het dekades gelede oorsee gaan woon. Volgens sy stiefseun, Ronnie Harker, is hul ma, Alice, in 1988 oorlede.
Philander is op 25 November 1921 op Caledon gebore. Hy was later hoof van die Hoërskool Belgravia in Athlone, Kaapstad.
Sy eerste digbundel, Uurglas, wat gedigte soos “Lente” en “Haar Uitvaart” ingesluit het, het in 1955 verskyn. Daarna volg die bekroonde digbundel Vuurklip in 1961. ’n Erepenning van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns is in 1964 aan hom toegeken. In 1968 emigreer hy en sy gesin na New York, waar hy van 1968 tot 2000 onderrig gee, onder meer in Afrika-studie, aan die Friend’s Academy, ’n Kwaker-skool op Long Island.

Toe Langdown in die sewentigerjare vir Philander in Long Island gaan besoek, was hy (Philander) baie nostalgies oor sy geboorteland. Hulle het een aand langs die eetkamertafel gesit en gesels tot dagbreek. Toe die son opkom, sê Meester vir hom: “Weet jy, Amos, die een ding wat ek baie mis van Suid-Afrika, is die gekraai van hane vroeg in die oggend.”

Maar die afstand het hom gehelp om oor sy ervarings in Suid-Afrika te skryf.
Daar was glo ook planne vir die heruitgee van Die Bruin Kokon, ’n geïllustreerde bloemlesing met Philander se digkuns geïllustreer met Langdown se kunswerke.
Dié boek is in 1965 gepubliseer. In die voorwoord het die digter I.D. du Plessis geskryf dat verse wat op bepaalde tekeninge deur ’n Kleurling-kunstenaar gebaseer is – in dié geval grafiese werk – en verse deur ’n Kleurling-digter, ’n samewerking met ’n baie besonderse betekenis is, want dis twee mense wat ’n gesamentlike boodskap wil oorbring, ’n boodskap wat in hierdie eeu waarin rasseverhoudings die allesoorheersende probleem geword het, meer as verbygaande belangstelling verdien.

Trouens, dit bly tot vandag seker een van die moois geïllustreerde bloemlesings wat in Afri¬kaans uitgegee is.
Rebunie, ’n roman gebaseer op sy ondervindings as onderwyser in die vyftigerjare, het in 2000 verskyn. Trialoog, een van sy laaste digbundels, is geskryf tydens sy verblyf in New York. “Wat baie nie weet nie is dat, hoewel hulle in Amerika gebly het, my ouers steeds Afrikaans met hul kinders gepraat het,” vertel ’n hartseer Harker.

Volgens Philander se oudste seun, Dennis (’n siel¬kun¬dige), het sy pa se gesondheid in Desember skielik begin agteruitgaan ná ’n ligte hartaanval. Hy het sedert 2002 by sy jongste seun, Peter, ’n mediese dokter in Las Vegas, gewoon.


©2009 Selwyn Milborrow

No comments:

Post a Comment