GEBED VAN SARAH BAARTMAN

in ‘n land van beskaafdes
was jy as frats ingehok
en moes jy wag, suster baartman
vir die vloek om weg te gaan:

"Jirre, ek is een van djou tjeeners
maarie mense hille algar sê ek is ‘n goggatjie
moetie lat hille my seer- of doodmakie"

maar as verlange jou byt
kon jy gaan na ‘n beter plek
met jou kaalvoet-gebed:

"Jirre, as djy weer reënbooggoggatjies stuur
om te kô kyk of dit genôg gereentit
sê hille ‘seblief om my te kô haal"

toe ferrus* jou oorskot vanuit
die koue daar anderkant bring
en jou vel die afrika-son voel
het ons hulde gebring:

"Jirre, vindag wil ons trug report –
daar’s niks meer om oor te stry
of te wonner oor vergewe en vergeetie…"

want sara ís vry
sý is vry
sy is vrý


* Diana Ferrus is welbekend vir haar gedig oor Sarah Baartman. Haar gedig "Vir Sara Baartman" is gepubliseer in die Franse wet wat spesiaal gemaak is om Sara se terugkeer moontlik te maak.

Hierdie gedig verskyn ook op die webtuiste: http://www.tablemountainconnection.blogspot.com/. "The website is the brainchild of the writers of South Africa and Suriname crossing the lines of continents. Our words connected on the Table Mountain of Cape Town, South Africa. A warm, intensive and energetic exchange only seperated because of different continents. Words we had to share, explore together. A natural outcome of our friendship, connected in words and language. Table Mountain Connection, the beginning of more to come between writer friends. An idea of Willem Fransman, Karin Lachmising, Elias Nel and Marieke Visser."
©2010 Selwyn Milborrow

No comments:

Post a Comment