DIE SKILDER (GEDIG)


("As I dip my brush into paint, I dip it into my soul and he who cannot appreciate this, does not have a soul. - Amos Langdown* 1930 - 1996)

vrouefigure beur teen die wind
in ‘n ander ‘n ma met haar kind

só kon jy nog altyd met ‘n kwasstreep
die lewe se kaalvoetmerke afmeet

buite teen ruite teken reёndruppels
kontoere deurweek in kleure

nóú wil my woorde
jou op hiérdie doek verf

want elke keer as dit reёn
word verf verwaterde trane
wat wegsink in Plet** se duine

stil is die skilder se hand


٭ Amos Langdown was ‘n bekende skilder van Port Elizabeth, Suid-Afrika. Hy het die skone kunste aan die Rijks-akademie van Beeldende Kunsten in Amsterdam, gestudeer. Hy was later dosent aan die Dower-opleidingskollege in Port Eli¬zabeth.
Sy skilderye is al in München, Uganda, New York en Londen en op die Venesiese Biënnale uitgestal. Van sy werke is opgeneem in versamelings in Duitsland, Italië, Holland en die Smithsonian-instituut in Washington. Hy het illustrasies gedoen vir die skrywers Alba Bouwer, Pieter Grob¬belaar en Hester Heese asook vir die digter P.J. Philander. Die Bruin Kokon, waarin hy die digkuns van Philander illustreer, het in 1965 die lig gesien. Die Bruin Kokon, is volgens baie kenners seker een van die moois geïllustreerde bloemlesings wat nóg in Afrikaans uitgegee is.

** Plet, is ‘n afkorting wat inwoners van Plettenbergbaai gewoonlik gebruik wanneer hulle na hierdie kusdorpie verwys. Amos Langdown is hier gebore.


©2009 Selwyn Milborrow

No comments:

Post a Comment