Rapport: 01/01/2011 - Selwyn Milborrow
Met sy unieke vertellings neem Bakkes die leser – soos in sy vorige boeke,  Nou’s ons in ons donner in en Moer toe die vreemde in – hierdie  keer op ’n Samoe(r)sa reis. 
En ons begin by die Richtersveld waar  Nama nog gepraat word en die “Namastap” leef, deur na Kartoem se stofstrate, dan  ’n drinkplek in Kreuzberg, Berlyn, tot in Indië, die land van kerrie en  samoesas. 
Saam met Bakkes gooi ons ’n draai in Varanasi, die stad van  die Hindoegod Shiva waar jy sterf en só bevry word van die siklus van geboorte  en dood.
In die verhaal “Reisgenote” laat Bakkes die leser met die  gedagte dat ’n lewensmaat eintlik ’n reisgenoot is wat hom of haar die ruimte  vir alleen wees, saamwees, apart wees en sommer net om te wees, toelaat.  
’n Reisgenoot mag immers nie eiesinnig wees nie. In die saamwees moet  die reisiger ook alleen kan wees. So is die lewe dan ’n reis met byna niemand  wat alleen by die lewenseindbestemming wil uitkom nie.
En dis die  belangrikste met wié jy die pad aandurf. Ondanks die beperkinge. Soos die  verteller se vriendskap met Kalie wat geld het, maar nie tyd nie. Anders as die  verteller wat tyd het, maar nie geld nie. Hierdie dilemma, die rokdraers en hul  reis deur Jammu – Kasjmir – die deel waar Indië en Pakistan op mekaar skiet,  skrik hulle nie af nie. 
Nou ja, Bakkes het mos al in ’n onderhoud erken  hy “hou nie van die normale nie, maar daar is soms ook ’n moedswilligheid  betrokke”. 
In “’n Eie plek” raak hy filosofies. ’n Man deurkruis die  wêreld op soek na iets net om dit by sy aankoms by die huis te vind. Vir party  is dit die studeerkamer met boek en rekenaar, vir ander ’n trofeekamer met  bokkop en geweer. Vir Bakkes is dit ’n drinkplek – sy kroeg.
Die stories  in Samoe(r)sa reis is soos ’n reis die vreemde in: jy weet nie presies wat môre  gaan gebeur nie. Die boek bevat 31 reisverhale en foto’s wat op hul avonture  deur Bakkes, sy vrou en vriende geneem is. In die naskrif is daar ’n  gedetailleerde weergawe van sy testament. 
Johan Bakkes, alias Johannes  die Loper, die man met die bangles, Sylvester Stallone (soos hy in Zambië genoem  is), het al in ’n onderhoud gesê hy is nie ’n skrywer nie, bloot ’n “trewwelaar”  met ’n storie. Maar in die genre van die reisverhaal staan hy uit en bied hy  uitstekende vermaak.
Soos met Bakkes se vorige boeke kan ’n mens net hoop  Samoe(r)sa reis word in Engels vertaal sodat die wêreld ook kan sien wat Bakkes  sien, beleef wat hy beleef. Die wêreld is te groot vir een leeftyd, leer ’n mens  in Samoe(r)sa reis. (Resensent: SELWYN MILBORROW)

 
 
No comments:
Post a Comment