'N MERRIE KRISMIS IN KATANGA (ARTIKEL)


Vier jaar gelede het Selwyn Milborrow met die inwoners van Helenvale gaan praat om uit te vind hoe hulle die kersseisoen in hierdie buurt ervaar. Hy het ontdek dat selfs die haglikste toestande nie die menslike gees kan demp of vernietig nie. Vandag, vier jaar later, het hy weer met die inwoners gaan praat.

Toe ek vier jaar gelede ‘n kindjie in Helenvale vra wat hy vir Krismis wou hê, was sy antwoord: “’n Remote control kar, oom.” Oppad na Helenvale wonder ek of ek dieselfde antwoord gaan kry. My gedagtes skiet terug na ‘n kortverhaal van die bekende skrywer, Abraham H. de Vries. In sy verhaal “Ons Dorp” skryf hy oor die gewone dinge rondom ons. Mense is volgens hom geneig om hulle te bekommer oor ‘n oorlog iewers in Afrika of in die Midde-Ooste, maar ontferm hulle glad nie oor hul buurman oorkant die straat nie. CNN doen elke dag verslag oor die ontmensliking van die mens, maar vertel nie die geskiedenis van die straat waarin jy woon nie. Dis hierdie klein geskiedenis wat die situasie juis menslik maak. Die meeste huise in Helenvale het hierdie tyd van die jaar ‘n krismisboom en trimmings teen die plafon en mure. Hier en daar hoor mens die klanke van “Jingle bells” en ander gewilde kersliedjies vanuit ‘n huis of taxi kom. ‘n Verskynsel wat nogal in enige woonbuurt in die Baai voorkom. Wat die ekonomie aanbetref was dit ‘n moeilike jaar vir almal, maar hier in Helenvale oftewel Katanga, worstel inwoners met meer as net ‘n wankelrige ekonomie. Bendebedrywighede, dwelmhandel en selfs prostitusie is euwels wat steeds ‘n bedreiging vir sy inwoners inhou. ‘n Onderwyser met wie ek gesels het meen dat daar in die verlede minder bendegeweld gedurende die feestyd voorgekom het, maar deesdae word hulle al hoe meer desperaat. “Hulle rob die arme mense van hul Krismis groceries. In die verlede het die gangsters ook op holiday gegaan, maar nou is hulle ‘n pes,” voeg sy vriend by.

Toe ek destyds met die inwoners praat was daar planne deur die munisipaliteit vir ‘n nuwe Helenvale. ‘n Bejaarde egpaar, oom “Fly” Albrecht en antie Rosy, was alreeds skepties oor burgemeester Faku en sy munisipaliteit se droomplan. Hulle kon nie verstaan hoe die burgemeester kon dink dat hy Katanga uit sy ellende sou kon verlos nie. Vandag weet ons wie reg was. Helenvale is in die sewentiger-jare deur die mense herdoop tot Katanga, ‘n stad in Sentraal-Afrika waar geweld ‘n alledaagse verskynsel was. Ek het in 2005 met ‘n omie in een van Helenvale se gevaarlikste strate gaan gesels oor die gevare wat dwelmmisbruik, prostitusie en bendebedrywighede vir almal hier inhou. Vandag, vier jaar later wou ek weet of daar vandag enigsins veranderinge ten opsigte hiervan in die gemeenskappe te bespeur is. “Die crime is terrible. Dinge het net erger geraak since meneer laas hier was. Ek het weer vir die ANC ge-vote omdat ek hierdie keer gedink het hulle gaan iets doen, maar ek is baie baie disappointed, meneer,” antwoord Oom “Fly” in ‘n hoesbui. Sy vrou, Rosy, is duidelik omgekrap omdat hy met ‘n zol in sy mond met my praat. Ek wou by haar weet of sy haar beroemde leg of lamb vir kersete gaan maak. Sy skree van die lag en klap haar hande. “Ja, ek sien maar net uit na die boud wat ek op Krismis eve gaan roast.” “Oe, en sy maak lekker roast potatoes, meneer,” voeg haar groentesmous-man hoes-hoes by. Buite hoor ons ‘n rumoer en hulle vra my om saam na buite te stap. “Dis maar net Belinda se mal kind wat weer die tang kry,” sê hulle uit een mond.
Verder af in die straat gewaar ek ‘n paar manne wat langs ‘n taxi staan terwyl ‘n seuntjie die wiele skoonmaak. Die musiek van ‘n bekende ganster rapper hang swaar in die lug. Nie ver van hulle af nie stoot ‘n meisie ‘n klein seuntjie rond in ‘n bekende kettingwinkel se inkopie-trollie terwyl hul maats opgewonde agterna hardloop. In ‘n vervalle speelpark staan tientalle kinders en waai in ons rigting. Oom Fly sug en knik sy kop toe hy opmerk hoe ek in ongeloof kyk na die park wat met gebreekte drankbottels besaai is. ‘n Uur later het my soektog na ‘n talentvolle jongman wie ek vier jaar gelede hier ontmoet het, my na sy vriend wat in die berugte Gaat woon, gelei. Ek wou uitvind of hy sy voorliefde vir rekenaars verder ontwikkel het. “Nee, oom, Tollos het daai computer verkoop en ‘n shebeen in Hankey begin,” antwoord hy skamerig. Meneer Pillay, ‘n Priester in die omgewing wie destyds die jongmense uit die strate probeer hou het deur peuselwerkies aan hulle te bied, is intussen oorlede. Die huis waarin hy gewoon het is vervalle en die gras en onkruid staan hoog.

Sommige inwoners voel soos die spreker in een van Adam Small se bekendste verse: “Die Here het gaskommel en die dice het verkeerd geval vi’ ons.” Hierdie verloor-mentaliteit is hartseer en tog verstaanbaar veral toe Oom “Fly” my voor my vertrek waarsku om liewer nie in politics involved te raak nie. “Kyk na ons mense hier in Katanga. Die government het ons alweer na die election soos cheap pruimtwak uitgespoeg.” Met bewende lippe en sigbaar emosioneel groet hy: “Mêrrie Krismis, meneer.” Vier jaar gelede het twee tieners van Helenvale geskiedenis gemaak toe hulle die geleentheid gekry het om modelwerk vir ‘n internasionale modelagentskap in Italiё te gaan doen. Mense wie ek mee gesels het weet egter nie wat van Jason Blou en Delores Drude geword het nie. Daar is egter nog heelwat hoop vir inwoners in Helenvale. Alicetine Mackonie, ‘n belowende jongmeisie, wie ek vroeёr ontmoet het, hou daagliks ‘n joernaal byderhand. Sy meen dit help haar om positief te bly en nie soos ander jongmense ‘n slagoffer van identiteitsverwarring te word nie. Alicetine het selfs artikels en gedigte begin skryf oor drankmisbruik en losbandigheid onder jongmense. Sy wil hê jongmense moet rustiger begin raak. Sy glo hulle kan net hulself word indien hulle hul eie gedagtes met nugterheid begin konfronteer. Haar passie vir skryf en haar deernis vir mense sluit aan by wat Braam de Vries gesê oor skryf as ‘n manier is om deernis te bekom. Hy meen as jy insig het in hoekom mense dinge doen, dan kom die deernis. Dis meestal die ouer mense hier in Helenvale wat bid vir ‘n terugkeer hierna. Omgee is immers die skakel wat mense saambind. Hulle het reeds bewys dat selfs die haglikste toestande nie hul menslike gees kan demp of vernietig nie. Met my vertrek besef ek daar is ‘n gees van Katanga in ons almal; ‘n begeerte om bo die swaarkry uit te styg. Mêrrie Krismis, Katanga.

©2010 Selwyn Milborrow
Foto's ©2010 Leon Harmse

No comments:

Post a Comment