AFRIKAANS: DIE TAMELETJIE


Afrikaans se toekoms lyk rooskleurig. Die nuuskanaal eNews het byvoorbeeld bekend gemaak hulle gaan binnekort ‘n Afrikaanse nuusbulletin op vermoedelik kykNet begin uitsaai. Volgens hulle vaar Afrikaans goed en Afrikaanssprekendes is ‘n belangrike kykersgemeenskap. Afrikaans bly egter ‘n tameletjie! Bruinmense ís die meerderheidsprekers van die taal. Skeppers van die taal, maar wie se bydra gewoonlik sommer net in ‘n paar sinnetjies afgemaak word. Leopold Scholtz, ‘n Media24 verteenwoordiger in Europa sê in sy weeklikse rubriek: “Nee, Afrikaans is nie nét deur die bruin mense geskep nie; ook die wittes had ‘n aandeel.” Hy sluit af: “En nee, Afrikaans is nie net die eiendom van die Afrikaners nie, maar van almal wat álle variante praat.” In ‘n geselsprogram op RSG het Dr. Pieter Mulder dieselfde sentiment gedeel toe hy sê die taal behoort aan almal wat dit praat. Die joernalis, Jason Lloyd, meen mens hoef net te kyk na kultuurfeeste om te sien dat wittes steeds die taal vir hulself opeien. Hy gaan so ver as om te vra vir ‘n waarheids-en-versoeningskommissie omdat daar vertrouensbreuk was. Lloyd meen die taal is doerie jare soos ‘n mat onder die bruines uitgeruk. Daar is die bekende Kaapse uitdrukking wat bruin skrywers se gevoel raak saamvat: “die uitgewershuise vat ons vir ʼn one.” Wie se taal is dit nou eintlik? Enkele weke nadat Clinton V. Du Plessis, ʼn ontstellende tog onverskrokke eerlike brief met die titel “Fokofafrikaans, ‘n swanesang” op LitNet geplaas het, het Louis Esterhuizen op Versindaba se webtuiste, met Clinton V. du Plessis gesels oor uitgewers versus selfpublikasie deur bruin Afrikaanse skrywers: “Wel, Louis, selfpublikasie was en is nog steeds vir baie bruin Afrikaanse skrywers dié opsie. Ek moet eerlik wees en erken dat ek vreeslik lanklaas kontak gehad het met formele uitgewerhuise, maar ons almal het hoofsaaklik, onaangename herinneringe van dié interaksies. Ons deel die gevoel waarvan Bruce Springsteen sing op sy, Born in the USA : “You end up like a dog that’s been beat too much/till you spend half your life just covering up.”

Die bekende Akademikus, Robert Pearce het in ‘n onderhoud oor Flaaitaal teenoor Louis Esterhuizen genoem dat die hoofstuk oor Tsotsi/Flaaitaal in Daniel Hugo se boek, Halala Afrikaans, onvolledig is aangesien hy dink Hugo as “gesoute” navorser meer indiepte navorsing sou doen en op bronne wat in Pearce se besit is, afgekom het. Pearce het aangebied om die bronne alleenlik te deel indien hy, Dennis Makhudu of Louis Molamu gevra word om ‘n nuwe Hoofstuk oor Tsotsi/Flaaitaal te skryf. Hugo het hom gewip en gesê: “Om geheimsinnig te wees oor die gepubliseerde bronne demp die gesprek en getuig van ‘n ghetto-mentaliteit…” Hugo het wel sy verwysing na ‘n “ghetto-mentaliteit”, teruggetrek, maar dit laat ‘n wrang smaak in die mond. Robert Pearce doen as akademikus al 36 jaar lank diens by internasionale erkende universiteitsbiblioteke en hy (of sy mentaliteit) kwalifiseer sekerlik nie as vanuit of gelykstaande aan die ghetto nie. Die vraag is waarom sal Hugo, ‘n hoogs intelligente skrywer en navorser dan so ‘n glips maak? Getuig dit van die witman se aandrang op of vrese oor die eienaarskap van Afrikaans? In ‘n e-pos aan my, vra Breyten Breytenbach die volgende: “Is dit werklik nog die persepsie dat Afrikaans (oorwegend) 'n witmanstaal is? Is daardie drogredenasie dan nie lankal die nek ingeslaan nie?” Hy gaan verder deur die storie te vertel van ‘n oom wat die ry mense in die poskantoor opgehou het deur oor en oor sy kleingeld te tel. Raadop vra die dame agter die toonbank naderhand: "Is oom se kleingeld dan nie reg nie?" Die ou man tel toe weer versigtig en agterdogtig en sê oplaas: "Ja, dis reg - maar ook nét!" Laat my egter toe om ‘n paar gevleuelde woorde te spreek: Afrikaans is nie meer uitsluitlik ‘n wit besorgdheid nie. Bruin én wit praat nou “saam" namens Afrikaans. Al verskil is dat ons aan teenoorgestelde kante van die draad staan. Groepsdenke is negatief. Groepe is veral geneig om kollektief te blameer; almal onder een kam te skeer.

Praat is een oplossing. Henry Jeffreys, ‘n voormalige redakteur van Die Burger meen ook “praat is altyd beter as baklei – mits die motiewe wedersyds suiwer is.” Wanneer daar vertrouensbreuk in ‘n verhouding was, is dit moeilik om weer vertroue te skep. Meeste bruines meen wit Afrikaanssprekendes se motiewe is als behalwe goed. “Hulle wil ons gebruik om Afrikaans op universiteite te red”. In sy e-pos skryf Breytenbach: “En van persepsies gepraat: ek weet ons is almal skelm, maar hierdie wit klong (Breytenbach) het nog nooit gevoel dis nodig om agter 'n bruin rug te staan om "die taal te red nie." Ek is seker baie ander wittes voel ook so.” Daar is nog ‘n lang lys van sulke conspiracy theories waarin wittes se motiewe bevraagteken word, but so what? Vincent Oliphant, ‘n bekende digter en rubriekskrywer, het in ‘n artikel gesê: “onverdraagsaamheid is nou maar eenmaal ’n ding waaroor hy bra onverdraagsaam kan raak.” By die onlangse beraad vir swart Afrikaanses by die Universiteit van Wes-Kaapland, het Archie Lewis, ‘n opvoedkundige, gemaan dat “ons eerder behoort te kyk hoe ons met ander belangegroepe kan saamwerk – ongeag wat hul agenda is.” Hy klink na my ma. Sy het altyd gesê ek moet ophou kyk na die verkeerd wat ander kinders aanvang en net die regte ding doen.

Ek het myself al telkemale gevra: Wat is dit wat my as ’n bruin Afrikaanssprekende so uniek maak? Is dit die pyn en vernedering wat apartheid my toegedien het? Lionel Adendorf, sameroeper van die Forum vir Swart Afrikaanssprekendes, het onlangs in ‘n onderhoud met Marida Fitzpatrick gesê: "Afrikaans is nié die taal van die verdrukker nie; dis my taal ook.” Vir hom was Afrikaans nooit sý taal nie. “Dit was net die taal wat ek praat en dis dit.” Mens kan egter ook nie elke dag met ‘n chip on your shoulder rondloop nie.
‘n Leser skryf in sy brief in Die Burger dat ons nie moet vergeet dat almal deel van 'n geheel is nie, en dat een bevolkingsgroep se probleme vinnig na 'n ander kan oorspoel. Die sanger en skrywer, Steve Hofmeyr het juis in ‘n naweek-koerant gesê hy sien hom en bruin mense as deel van dieselfde gemeenskap. “Ek sal glad nie omgee om vir ’n tydjie bruin te wees nie. Ek probeer nog net my bruin pelle sover kry om wit te wil wees.” Hy het bygevoeg dat “Die parallelle tussen my en die bruin gemeenskap is so klein, ons dink dieselfde. En dit het niks met kultuur te doen nie.” Regteenoor Steve staan Dan Roodt en sy geesgenote wat dinge net wil vererger. Hulle wil glo graag hul Westerse standaardtaal gebruik “sonder dat Terrance April of al die ander regstellende- aksie-omroepers ons ore seermaak.” Hoe gemaak as bruines daarop aandring dat Kaaps Standaardafrikaans moet vervang? Alle groepe moet hul toksiese sieninge en gesindhede liewer vermy en eerder mekaar openbare uiteenlopende standpunte gun. Dit kom voor asof hulle nie hierdie standpunt wil omarm nie. Hulle wil ’n strydpunt hiervan maak. Ek glo alle sprekers van die taal het die reg daarop om dit met hul aksent te praat. Dit maak ons taal soveel ryker. Afrikaans is mynsinsiens nie ’n kleur nie, dit lê op die tong.

No comments:

Post a Comment