VAN ALLE KANTE (Die Burger)
“Mens word soms geconfronteerd met het feit dat het leven niet dat materiёle is, maar geboorte, leven en sterven.” My Surinaamse skryfgenoot se woorde was soos ‘n langverwagte bries. Usha het haar pa ‘n week vantevore aan die dood afgestaan. Ek kon met haar verlies identifiseer. Ek onthou die boodskappe van medelye en bemoediging toe ek my pa sowat drie jaar gelede verloor het. “De herinneringen aan je vader blijven voor altijd bestaan,” skryf ek terug aan Usha. “Het was een mooie uitvaart,” antwoord sy nadat ek verneem of sy teenwoordig was met haar pa se heengaan.
Dit is inderdaad so dat herinneringe oor ‘n geliefde mens altyd bybly. Die herinneringe raak net soeter, en die pyn bietjie minder. Die klem natuurlik op “bietjie”.
“Het pyn om iemand die je verliest wordt nooit minder. Het wordt wel beter te verdragen als je je verliest met anderen kunt delen.”
Usha verstaan natuurlik ook dat soos met die heengaan van my pa, wil ek graag haar ook help “dragen” aan haar las. Sy benodig die “kracht in deze moeilijke tijd.” Ek skryf in my e-pos aan haar: “Ik kan maar een ding zeggen, de liefde die je vader in je hart heft geplant kan zelfs de dood je niet afnemen. Gedenk hom in je leven.” Sy belowe om my “adviezen op te volgen.”
As ek nou terugkyk na al die wyse woorde en advies wat my pa met my gedeel het, besef ek van watter onskatbare waarde dit is. Hy het geweier om ’n slaaf van oorlewing te word en nie sover te kom om net te leef nie. Al wat op die ou end oorbly, is mens se siel.
Daar is egter een wysheid wat my pa kennis van gedra het, maar nie kon verwesenlik nie: Mediese fonds! Drie jaar na sy heengaan kom daar steeds ‘n woede in my op as ek dink aan die swak diens wat my pa by die Livingstone hospitaal ontvang het. Swak dienslewering is ‘n bitter pil wat niemand graag wil sluk nie. Veral wanneer daardie pil die Livingstone-hospitaal is. Toe ek onlangs ‘n koerant oopmaak en lees oor die agteruitgang van hierdie hospitaal het die verontwaardiging weereens in my opgestoot. Tydens my pa se nagmerrie verblyf in die hospitaal is sy bril, horlosie en reukwater gesteel. Ons het dit aangemeld, maar geen ag is daarop geslaan nie.
Om met ‘n dokter te praat en te hoor watter behandeling hulle vir hom voorstel was ‘n moeilike taak. My pa is eers nadat hy na die Provinsiale-hospitaal oorgeplaas is, met kanker gediagnoseer. Hy is die volgende dag oorlede. My advies aan Usha het ek destyds toegepas; ek het hom “in my leven gedenk”. Usha is gelukkig om in ‘n land te woon waar uitstekende dienslewering en mediese behandeling ‘n alledaagse verskynsel is. Hier sal die slegte herinneringe oor die Livingstone-hospitaal ‘n bitter pil bly, maar die goeie herinnering oor my pa sal altyd my happy-pil wees.
No comments:
Post a Comment