BEMAGTIGING DEUR DIE WOORD



Die Afrikaanse Skrywersvereniging (ASV) neem van 24 tot 27 September 2009 aan die Northern Arts-fees hier in Port Elizabeth deel. ’n Skryfslypskool op Erfenisdag en ‘n woordkunsprogram is deel van die opwinding wat op feesgangers wag. Selwyn Milborrow het gesels met Willem Fransman Jr, voorsitter van die vereniging, oor die “fees van woorde” en oor die miskende Baaise kunstenaar Amos Langdown.


Willem Fransman jr, die dramaturg, akteur, storieverteller en skrywer, is deurgaans betrokke by kunstefeeste en in die gemeenskap. Dit kan maklik beskou word as ‘n velenging van die oproep tot 67 minute se gemeenskapswerk ter viering van die eerste wêreldwye Mandela-dag. Sy betrokkenheid by die derde jaarlikse Northern Arts-fees hier in Port Elizabeth is nog een van daardie geleenthede waar hy en ander gevestigde skrywers hul deel vir die gemeenskap kom doen.

Op Erfenisdag, bied hulle ’n skrywerswerksessie aan oor die skryf van gedigte, kortverhale en dramas, en storievertel. “ ‘n Fees van woorde”, verduidelik hy sy beskouing van die fees. “Die ASV beplan om deur middel van die kort kuns - die digkuns wat die kroon op die mens se kreatiewe denke is - nuwe belangstelling onder die publiek te bring. Die digkuns is dikwels bevrydend omdat, soos Lord Byron, opgemerk het: “For man to become a poet, he must either be in love or miserable!”
“Die digter werk dikwels tussen hierdie twee emosies. Daarom vereenselwig mense hulle so maklik tot die digkuns.”

Volgens Fransman jr wil die groep graag besienswaardighede in die omgewing besoek, met die hoogtepunt ’n besoek aan die huis van die Baaise kunstenaar, Amos Langdown. Langdown en die digter P.J. Philander het in 1965 die boek Bruin Kokon die lig laat sien. Dit is ‘n geïllustreerde bloemlesing met Philander se digkuns en Langdown se kunswerke. Hierdie boek is uniek in die lig daarvan dat dit illustrasies deur ’n bruin kunstenaar en verse deur ’n bruin vervat.
Volgens baie kenners is dit buitendien een van die moois geïllus¬treerde bloemlesings wat nog in Afri¬kaans uitgegee is.
“Ek onthou dat ek enkele maande voor Langdown se dood met hom oor sy skilderkuns gesels het. Toe ek hom vra waarom hy juis olie¬verf gebruik, was Langdown se antwoord: “Elke keer as ek my kwas in olieverf doop, doop ek dit as't ware in my siel! Dis nie net olieverf nie – ek skilder met my hart ook.”
Fransman jr noem Langdown juis ‘n “skilder par excellence.”
Dit word algemeen aanvaar dat Langdown ‘n briljante leermeester en wonderlike kunstenaar was wat nooit die erkenning gekry het wat hy verdien het nie.
Hul reis na Port Elizabeth beskou hy as ‘n “pelgrimstoer na die wêreld van Amos Langdown”, en dit is vlogens Fransman jr juis ‘n manier van erkenning aan hierdie ontslape skilder. “Natuurlik was Langdown een van ons champions en ‘n baanbreker.”

Wat is Fransman Jr se beskouing van die feit dat kinders van vandag nie meer daardie lewendige boomklim-avonturiersgees het nie? Het dit dalk bygedra tot die gebrek aan belangstelling in die skryfkuns onder jongmense?
“Ek doen dikwels besoek by skole waar ons oor veral voorgeskrewe werk in Afrikaans praat.
Ek wens mense kan die uitdrukkings van die jongmense sien wanneer hulle verstaan waaroor kreatiewe werk werklik gaan.”

Hy hoop die toer gaan die stimulis wees vir jong skrywers om aktief betrokke te raak. “Daar is egter steeds ‘n kommerwekkende aspek: jong seuns lees baie minder as jong meisies. En hulle daag ook minder op by die werksessies!”
In sy hoedanigheid as voorsitter van die ASV, het hy gevestigde skrywers daarvan beskuldig dat hulle nie uit hul eie wil help om beginnerskrywers te bemagtig nie.
“Dit is ons Godgegewe taak om die liefde vir die poësie te kweek - en waar beter as op ‘n kunstefees?
Dis besonder belangrik om ‘n leserspubliek geprikkel te kry en dan van hulle kopers te maak. “Daar bestaan nog nie juis onder ons mense die kultuur van eie boeke koop nie.” Daarom is dit ideaal om op só ‘n fees mense bewus te maak en ‘n liefde vir boeke by hulle aan te wakker.

“Ek is verby die punt om gevestigde ouens (skrywers) te soebat. Langenhoven het gesê: “As jy kla dat die geselskap wat jy het, sleg is, maak dan dié wat jy het, goed.”
Dit is wat ons moet doen.

No comments:

Post a Comment