GEDIG / POEM - "DIE SKILDER"



die skilder
(by die afsterwe van Amos Langdown*)

vrouefigure beur teen die wind
in ‘n ander staan ‘n ma met haar kind

só kon jy nog altyd met ‘n kwasstreep
die lewe se kaalvoetmerke verf

buite teen ruite teken reёndruppels
kontoere deurweek in kleure

nóú wil my woorde
jou op hiérdie doek verf

want elke keer as dit reёn
word verf verwaterde trane
wat wegsink in Plet** se duine

stil is die skilder se hand


٭ Amos Langdown was ‘n bekende skilder van Port Elizabeth, Suid-Afrika. Hy het die skone kunste aan die Rijks­aka­de­mie van Beeldende Kunsten in Amsterdam, gestudeer. Hy was later dosent aan die Dower-opleidingskollege in Port Eli­zabeth.
Hy was al uitgenooi om van sy skilderye in München, Uganda, New York en Londen en op die Venesiese Biënnale uit te stal. Van sy werke is opgeneem in versamelings in Duitsland, Italië, Holland en die Smithsonian-instituut in Washington. Hy het illustrasies gedoen vir die skrywers Alba Bouwer, Pieter Grob­belaar en Hester Heese asook vir die digter P.J. Philander. Die Bruin Kokon, waarin hy die digkuns van Philander illustreer, het in 1965 die lig gesien. Langdown se eerste uitstalling was in 1964 in die Edrich-galery op Stellenbosch – ’n eerste vir ’n bruin skilder.

** Plet is ‘n afkorting wat inwoners van Plettenbergbaai gewoonlik gebruik wanneer hulle na die kusdorpie verwys. Amos Langdown is hier gebore.

©2011 Selwyn Milborrow

No comments:

Post a Comment