FLORIS A. BROWN SKRYF 'N BARSHOU


My eerste kennismaking met die gedigte van Floris A. Brown was tien jaar gelede nadat ek met die Baaise digter Vincent Oliphant oor struggle poetry gesels het. Ek hou van die eenvoud gemeng met diepte van Floris se gedigte. In sy nuutste digbundel KALEIDOSKOOP mik hy ’n hou na die letterkundiges wat nie ’n woord uiter ter ondersteuning van die struggle-digters soos hy self nie: “Waar is julle/ O julle letterkundiges/ is so oorverdowend stil/ S-o-o oorverdowend aan het swyg/ Is julle druipstert na jul gate aan het hyg?”

Hy skryf oor die liefde:

O die skyn
huwelike kan tog alte lekker al-le-nig word
waar jy jou nagte uithuil in ’n stort
en elders:

Toe ek geen verskuilde agenda aan jou kon vind
Het ek geweet ons liefde is vir altyd gebind

As sportadministrateur kry hy ook ’n hou in na die Springbokke:

Dit is die toets vóór die toets
Waar die Bokke faal
Hul struikel oor rassisme
Terwyl hul na die doellyn nael.

Hy skryf oor armoede en sy mense se pogings om daaraan te ontsnap:

Huisnood

Al trek ek net met ’n tafel op my kop
In my munisipale huis
Dan het alreeds baie gedelf
Al die ander goed kom vanself.

Maar Brown se bitterheid omdat hy deur die groot uitgewers oor die hoof gesien word, tref telkens soos koue water in die gesig:

Hoe sal ek ’n digter word?

Hoe sal ek tog dan nou kan maak
Dat uitgewers ook van my ’n digter maak
Na wie sal ek my gedigte stuur
As ek my jare vasloop teen ’n loodreg muur?

En elders:

Witbrief

’n Witduif kom met die boodskap
Aangevlieg. Plons op my sofa neer:
“Jou poësie is nie wit genoeg
Om te publiseer.”

Uitgewers

Ek het kragtig aanbeweeg
Verby jul blokhuise
Tog, staan julle ook opgeskryf
In my digbundel nommer sewe.

Die Restless Kid van Worcester het reeds 24 bundels uitgegee, almal deur homself gepubliseer, want:

Mense hou nie daarvan om
Woorde te lees wat kwel aan
Hul vel, dus, is ek tot vandag
Geen Uitgewer se pêl.
(Uit: “Vel”)

En hier kom Floris Brown met nog ’n meesterskuif: toe niemand sy bundel Kaleidoskoop wou publiseer nie, publiseer hy dit self, want “terwyl uitgewers soos tipiese blokhuise nog steeds net hul voorkeurskrywers publiseer, is selfpubliseerders soos onderstromige wingerdboer-produseerders wie se vrugte een of ander tyd soet op die tong val” (41).

Die potpourri-styl van die bundel sal dalk nie in die smaak val van die letterkunde-fynproewer nie. Die hand van ’n eindredakteur word gemis; daar is insetsels wat dalk eerder tuishoort in ’n familie-gedenkalbum as in ’n letterkundige werk. Maar in ag genome sy stryd om erkenning te kry van die uitgewers, kan jy begryp waarom die digter so veel as moontlik wil sê met die min hulpmiddele tot sy beskikking.

In ’n tyd waar almal wonder oor die toekoms en voortbestaan van Afrikaans, is dit onvergeeflik dat ’n digter reeds 24 bundels op eie koste moes publiseer, terwyl ons as Afrikaanssprekendes daagliks na ’n swetterjoel musikale gemors en rymelary moet luister van onbeholpe sangers wat ewe onbevoegde radio- en TV-joernaliste met arrogansie aan ons wil opdis as “kuns”.

Floris Brown kon soos baie van sy tydgenote wat in Afrikaans ontvang en gebore is, so maklik sy rug op die taal gekeer het – veral as jy in ag neem hoe hy deur uitgewers behandel word. Maar so diep is sy passie vir sy moedertaal dat hy nog energie oor het om ander aan te spoor: “[M]ag die werk van jou hande/ ’n vonk wees vir talle dooie kerse” (217).

’n Merkwaardige mens, ’n merkwaardige bundel. Kaleidoskoop sal eendag as Africana verklaar word, want daar is slegs ’n beperkte aantal eksemplare van hierdie werk gepubliseer. Kry dus een in die hande terwyl jy kan, én terwyl jy dit kan bekostig.
* Die resensent, Michael le Cordeur doseer Afrikaansonderwys aan die Universiteit van Stellenbosch.


KALEIDOSKOOP is ’n versamelaars item met volkleur foto's. Die boek kan direk bestel word van FUTURE MANAGERS (PTY) LIMITED:

Posbus 13194
Mowbray
7705
Tel: 021 462 3572
Faks: 021 462 3681
Epos: zoleka@futuremanagers.net (Zoleka Ncpayi)

Ook beskikbaar by Floris Brown: florisbrown@mweb.co.za / 083 235 5364

No comments:

Post a Comment