ERFLATINGS EN BEURSE


Ek skryf vandag oor mense wat andere se goed vat. Erflatings! Dit en lieg-stories het sedert die Bybeldae al menig ‘n verhouding versuur. Dink maar aan hoedat Jakob vir Esau verneuk het.

As tjokkertjie moes ek al soveel maal hoor hoe ek eendag as oudste seun, erfgeld sou kry na my oupa se dood. Wel, die dood het gekom en die testament het gegaan! Dis ‘n kwessie van die erfgeld het beland in die hande van iemand vir wie dit nie bedoel was nie. Toe Robert Pearce, hoofbibliotekaris by die Nelson Mandela- Metropolitaanse Universiteit onlangs Jan Rabie se boek Polemika, in my hand stop het ek aan die erflating herrie rondom die skrywer Andre P. Brink gedink. Wat ek hier met die lesers deel het niks met die persoon van Brink te doen nie. Kom ek begin by MC Botha se ope brief aan Brink. Botha, ‘n eertydse buurman en lewenslange vriend van Jan en Marjorie Rabie kon nie verstaan waarom Brink - wat so goed met albei van hulle bevriend was - by wyse van spreke munt wou slaan uit hul nalatenskap nie. Hy skryf “wát jou rede is – ’n rede wat boonop in jou binnekamer klaarblyklik deur jou hoër geag is as dié van ’n waarlik geldlose skrywer – kan ek my nie indink nie.” Botha beweer Marjorie het vir hom gesê ná háár dood sal hul erfgeld in ’n trustfonds gestort en deur ‘n universiteit bestuur word sodat ’n behoeftige student jaarliks daaruit voordeel kan trek. Hoe het die beurs in die hande van ‘n gevestigde skrywer beland. Het die trustee hul eie intepretasie van die testament laat geld? Steward van Wyk, ’n professor van die Universiteit van Wes-Kaapland het in ‘n persverklaring (1) gesê oor die nuwe beurs: “Die beurs getuig van Jan en Marjorie se lewe – die onbaatsugtige ywer waarmee hulle die kulturele milieu gevoed, gedien en bevorder het en ’n ruimte geskep het vir skrywers, kunstenaars en intellektuele om deur verrykende kontak met ander, nuwe idees te ontwikkel wat ’n positiewe invloed op die breë samelewing kon uitoefen.” Hy voeg by: “Die beurs se hoofdoel is om ’n belowende skrywer of skrywer van aansien in staat te stel om vir ’n jaar lank sonder finansiële bekommernisse te fokus op ’n projek in skeppende skryfwerk in Afrikaans." Was dit Jan Rabie en Marjorie Wallis se eerlike wens dat 'n belowende skrywer asook 'n skrywer van aansien albei 'n kans op die beurs moes hê?

Na die lees van Rabie se Polemika, wonder ek hoe Jan Rabie self hierop sou reageer. In sy boek (sowat vyftig jaar gelede geskryf) vat hy in van sy briewe, verskeie skrywers en academici aan. Ek sien in my geestesoog hoe hy óók Brink aanvat oor die redes waarom hy aansoek vir die beurs gedoen het. Ek sien hoe Rabie sy brief aan Brink afsluit: “so maklik is dit darem nie.”

Ek dink opnuut aan my oupa se erfgeld en wonder of ek nie ook dalk ‘n ope brief aan die blikskottel moet skryf wat my erfgeld gevat het nie. Maar aan wie rig ek dit? Wie is die Andre P Brink in my oupa se nalatenskap? Hopelik e-pos hy/sy my met redes waarom ek hy/sy dit gedoen het. Daar is die Malema-opsie: “Ek “weet nie” hoe ek die erflating gekry het nie”, of iets soos: “as enigiemand kan bewys dat ek iets verkeerd gedoen het, kan julle my in hegtenis neem.” My reaksie sal wees: “as jy jouself kan vergewe, kan ek jou vergewe.” Dalk antwoord ek iets soos: “so maklik is dit darem nie!”

©2010 Selwyn Milborrow

(1) Die Burger 2009-09-24, Willem De Vries

No comments:

Post a Comment