SAVED (POETRY)


yes, i know who i am
yes, sir, yes ma’am
i’m saved & unfazed

saved ‘cause i’m unfazed
‘cause my vertical relationship
is determined by my horizontal relationship –
yes, i honour my Jesus ‘cause i’m selfless
& ‘cause i’m selfless i can walk in His righteousness
& not dictated by the flesh
& the devil’s trash

His righteousness outweigh my circumstances
His words still carry weight
therefore the devil can wait!
the devil can go to... well
he can go to hell!

i’m saved ‘cause i’m saved
i’m unfazed ‘cause i’m unfazed
i’m saved ‘cause i’m unfazed
i’m unfazed ‘cause i’m saved –
i’m saved
i’m saved
i’m saved!

©2010 Selwyn Milborrrow

JULIUS MALEMA INGEHULDIG AS PRESIDENT VAN S.A.


Mnr. Julius Malema sal die land later vandag vir die eerste keer as president van ‘n demokratiese Suid-Afrika toespreek. Meer as vier jaar se voorbereidings kom vandag tot volvoering wanneer Malema, ANC-leier, as Suid-Afrika se vyfde president ingehuldig word. Duisende Suid-Afrikaners sal van die Uniegebou se grasperke en nóg miljoene sal op televisie toekyk hoe Malema - agter koeëlvaste glas - in die amfiteater van die Uniegebou deur hoofregter John Hlophe as president beëdig word.
Sy inhuldiging kom presies vier jaar na die suksesvolle 2010 sokker wêreld-beker wat in Suid-Afrika gehou was. Die wêreld was geskok toe ‘n jubelende Malema en die AWB-leier, André Visagie saam met die Bafana-Bafana span die gesogte sokker trofee omhoog hou. Daar was nog ‘n skok toe ‘n minuut stilte gehou was vir Eugène Terre’Blanche, die ontslape leier van die Afrikaner-Weerstandsbeweging wat twee maande voor die toernooi op sy plaas vermoor is. Menige kenners meen dat dit die keerpunt in Malema se politieke loopbaan was. Oudpresident Jacob Zuma het na die finaal van die 2010 toernooi geskerts dat die Springbokke gerus vir Malema ‘n rugbytrui moet stuur aangesien hulle daardie geluksvoël gaan nodig hê. “Hy is ons nuwe Madiba,” het Zuma aan joernaliste gesê.

Voorbereidings vir Malema se inhuldiging het reeds vroeg vanoggend begin met sowat 900 mediaverteenwoordigers van oor die wêreld heen wat met busse na die Uniegebou aangery is. Daar word 34 staatshoofde en asook 6 000 eregaste verwag. Schabir Shaik, voormalige finansiële raadgewer van mnr. Jacob Zuma, wat in 2010 op mediese parool vrygelaat was, is nog onseker of hy sal bywoon aangesien daar steeds op ’n verslag van die korrektiewe toesig- en paroolraad raad gewag word. In ‘n versoeningsgebaar gaan Malema die BBC-joernalis, Jonah Fisher, wat hy in 2010 uit ‘n perskonferensie uitgejaag en hom ‘n “bliksem” en ‘n “bleddie agent” genoem het, as sy amptelike woordvoerder aanstel. In nog ‘n ongewone stap gaan oudpresident Nelson Mandela saam met sy vrou Graca Machel, ‘n spesiale toekenning aan Malema oorhandig vir die versoenende rol wat hy tot nou toe in die land gespeel het. President Barack Obama van die Verenigde State van Amerika sal nie teenwoordig wees nie aangesien hy vandag ‘n vredesooreekoms met Iran onderteken na ‘n bloedige oorlog tussen hierdie twee lande. President Robert Mugabe van Zimbabwe wat gister in die land aangekom het, het bekend gemaak dat hy herstel het van sy hart-operasie en dat Malema se inhuldiging vandag hom weer nuwe moed gaan gee om sy land vir nog ‘n termyn te lei. Soos met die inhuldiging van oudpres. Jacob Zuma in 2009, sal die nasionale lugdiens sy kundigheid in formasievlug ten toon stel terwyl Ras Dumisani, die Rastafariër wat in 2010 voor die Springbokke se rugby toets teen Frankryk ’n gemors van die Suid-Afrikaanse volkslied gemaak het, die volkslied saam met Steve Hofmeyr sing. Albei sangers het glo reeds meer as twee maande saam met die groep, Mango Groove geoefen om ‘n herhaling van so ‘n verleentheid te voorkom. Hofmeyr, wat intussen met 'n bruin vrou getroud is, het op sy blog geskerts dat hy, Ras en Malema ná die amptelike plegtigheid saam in die Uniegebou ‘n paar tjops gaan braai.
Pres. Malema sal môre sy kabinet aankondig. Hy is glo slaggereed om sy moue van môre af op te rol vir die werk wat vir sy nuwe regering wag.

©2010 Selwyn Milborrow

A CASE OF LONGING & BELONGING: ARTHUR NORTJE


I read a very interesting blog written by Nafis, an Iranian studying in Canada. On her blog she describes her first trip to Canada as a happy and sad at the same time. She believes that sharing her stories on her blog will show others what kind of life they can expect when living abroad. What a coincidence that it reminded me of a South African poet, Arthur Nortje who also lived in Canada and died in exile in Oxford in the United Kingdom. Another coincidence is that he hails from my hometown, Port Elizabeth, South Africa.

Arthur Nortje (1942-1970), however did not choose to go abroad as is the case with Nafis. The political situation in her country is unfortunately not too good at the moment.
Arthur Nortje was born to a coloured mother and white father in Oudtshoorn. He went to school in Port Elizabeth. His high school teacher was the acclaimed writer/activist Dennis Brutus. Nortje started writing poetry in the early 1960s, during a decisive period of twentieth-century South African history. He was never a political activist but protested through his poetry. Nortje later studied at the University College of the Western Cape (now called the University of the Western Cape) and received a scholarship to Jesus College, Oxford in the United Kingdom, where he obtained a BA degree.

In 1966 he left South Africa on an exit visa to join other South African political exiles in London. He emigrated to Canada in 1967, to teach in Hope, British Columbia and Toronto. He continued writing poetry that dealt extensively with his own personal alienation of being classified as coloured in apartheid South Africa. In the town of Hope in British Columbia, he still felt isolated and depressed and moved to Toronto. His stay in Toronto did not change his condition. He lived and taught in Canada from July 1967 to June 1969. Recent studies show that there is a strong relationship between living abroad and creativity. This is true in Nortje’s case; he used his sharp powers of observation to write about life and culture in Canada. During his exile years he deployed figures of separation and loss in his poetry. This could have been as a result of his alienation from his original or natural community because of apartheid.

In 1970 He decided to go to Oxford to work on a doctorate. He died shortly afterwards of a drug overdose. His poems were published posthumously in the collections Dead Roots (1973), Lonely Against the Light (1973) and Anatomy of dark (2000, Edited by Dirk Klopper, University of South Africa). Arthur Nortje was a complex character and tragic figure. His memory lives on in the hearts and minds of all the people whose lives were touched by his poetry and humanity.

GIRL VANNIE FLêTSE (POEM)


Geagte leser, dié geleentheid bied hom slegs een keer in ‘n leeftyd… (Elisabeth Eybers)

ek onthou die kjoet meisiekind
mettie kiss me curls en rooi krimpeliên rokkie.

ek siennit nog -
my hart wat mal ruk
toe ekkie girl vannie flêtse
op haar wêlwit-sagte wang soen.

ek’t haar laasweek oppie rênk gesien -
sy’t my nie herken nie
vir ‘n oomblik ek ôkkie
tot ek my disnis geloop het
innie memory van daai soen.

my hart ruk steeds mal
virrie girl vannie flêtse.

© Selwyn Milborrow

BENDES VAN DIE BAAI


Die Mongrels het die Mafias vergewe, maar in die Baai se Northern areas is hul skrikbewind nie vergete. Pang, een van die mees gevreesde bendeleiers van die sewentiger jare is vandag ‘n bekeerde man en ‘n steunpilaar in die gemeenskap. “My broer is ‘n dik ding by ‘n government department,” spog sy Tollos terwyl hy met sy Okapi mes speel. Die meeste bendes het destyds die Okapi gebruik. “Nou hoekom is jy involved in drugs en gangsterism, my broe? Jou broer gaan dit notch en jou laat mang.” sê Tollos. “It’s none of your business, Piepie,” dreig hy en mik na hom. Tollos is vasbeslote om in sy broer se voetspore te volg deur ‘n gevreesde bendeleier te word. Hy ken die geskiedenis van die bendes. Gelvandale, Helenvale en Schauderville was destyds gevaarlike plekke om in te woon. Die First stop in Schauder was die Mongrels se gebied. Die First stop was die eerste busstop in Schauder. Die Mafias en die Mafia Kids se gebied was in Helenvale. Helenvale is in die sewentiger-jare deur die mense herdoop tot Katanga, ‘n stad in Sentraal-Afrika waar geweld ‘n alledaagse verskynsel was.

Baie bende lede is vermoor omdat hulle buite hul gebiede beweeg het. Die Mafias het glo mense in stukkies opgesny en vir die stad se rondloper honde gevoer. Die reёl was dat geen lid van die vyand sonder onderhandelings met die leier van die plaaslike bende buite sy gebied moes besigheid doen nie. Baie het meisies gehad wat in die vyand se kamp gewoon het. Sommige het oorgeloop net sodat hulle met hul meisies kon wees. Die meeste het egter met hul lewe betaal omdat dit verraad was. Die leiers van die Mongrels was egter gentlemen. Hul kode was B13, glo ‘n verwysing na Bungalow 13, ‘n berugte tronksel. Die bekendste figure was Oom Dattie en Dose. Hulle en hul lede het kinders en groot mense gerespekteer. Hulle het nie voor ou mense gevloek nie, en as hulle gevloek het, het hulle verskoning gevra. Hulle het ook nie voor ou mense gerook nie. “Sorry mums en sorry dads,” was hul manier van respek toon.

Vandag se skollies het geen respek vir ou mense en kinders nie. Tollos glo dat hy met niemand moet lag of genade aan betoon nie. Hy was al ‘n paar keer in die tronk en dis waar hy twee moorde gepleeg het as deel van ‘n bende-inisiasie. Daar het hy kennis gemaak met die boek van die Mtsayelo – ‘n boek van die bende-wet wat ‘n sekere bende voorskryf en navolg. Hy ken ook die ou wat in paseli is. In paseli beteken in beheer van bende aktiwiteite in die tronk. Tollos maak sy Okapi toe en kyk na die tyd op sy Rolex. “Piepie, die skool kom nou uit. Ons beter line.” “Ja, kom ons line voor daai taxi ncwata weer jou girl op-chat en van haar ‘n taxi-queen wil maak,” sê Piepie. Hulle vleg roekeloos met Tollos se Merc deur die verkeer in Standfordweg. ‘n Paar motoriste toet sewe keer vir hom as ‘n teken van respek. Hy glimlag deur sy goue tand en wink met ‘n vuurwapen in sy truspieёl na hulle. “Ek wens daai ncwata wil my girl afvry want ek smaak vir ghazi vanaand.” Ghazi is bloed in skollie-taal. Hulle slaan brieke voor die skool. Tollos se girl staan nie soos gewoonlik by die hek en wag nie. Hy kry ‘n skewe glimlag op sy getatoeёrde gesig en kyk na Piepie, “Let the games begin...”

©2010 Selwyn Milborrow

LIEDJIE VIR JOU (NEW SONG FOR YOU)

liedjie vir jou:

vannag het ek jou gesien in ‘n foto

vannag het ek jou gesien in my hart

ek onthou die moment langs die see

ek onthou die sterre in jou oë

vannag het ek jou gesien

in die handpalm van my hart

van my hart

van my hart

©2010 Selwyn Milborrow

MONOLOOG VAN 'N EENSAME


Eens op ‘n tyd kon ek ‘n verskietende ster vang nog voor dit die aarde tref. Dit in ‘n boks plaas en met ‘n strikkie toebind en as dankoffer gee - net vir jou. Só kon jy die omgee in my oë sien. Dit in die winternagte op jou vel voel as my lippe op jou kom lê. Met net die trek van my mond of oë kon jy sien as iets pla. En as jy my vra was ek laaste om te glo. Maar dit was vir my nog altyd makliker om die seer in ink te laat uitvloei as om met gestolde dinge te lewe. Met jou was hierdie wêreld ‘n beter plek om in te leef. Doemprofete het egter in die diepe nag in my oor kom fluister dat skadus die hoekies van my hart kom beset het. “Kan dit waar wees? het ek jou gevra. Jy was nie daar om die diep skemergille aan te hoor en te antwoord nie. Net stilte. ‘n Malmakende stilte.

Om te dink elke keer as jy verskyn in die spieël van my gewete word dit ‘n muur waarteen ek my kop stamp. Al keer ek hoe kwaai loop ek my vas in plekke waar ons was. Dit is ‘n sonde om jou só lief te hê. Dit is asof ek jou aanraak in als wat ek raak vat. Soms loop ek my vas teen jou foto in ‘n koerant of in ‘n bekende restaurant. Soms bietjie, soms baie. Byna elke aand hyg my hart in stegies van ‘n wegholdroom, maar steeds kan ek die hasejag nie ontglip nie. Hoe kan ek aanhou voorgee dat ek sonder jou kan leef wanneer ek weet dat dit ‘n leuen is? Diep binne my weet ek dit is ‘n sonde om aan herinneringe oor jou vas te hou. Dis juistemint dié soort ding wat my noop om op te hou met sandkastele bou. Ek moet omdraai netsoos jy omgedraai het soos sigaretrook weg van my. Hoekom? Want daar is ‘n realitieit; die stilte is bewys dat jy my lankal vergeet het. Ek moét leer om van jou te vergeet. Wanneer trane begin val sal ek - moet ek - dink aan al die seer wat jy my gebring het. Van vandag af gaan ek my hart leer om nie meer lief te hê nie. Om nie meer seer te kry nie. Ek het vir lank geweier om op te hou vasklou aan hoop – vir ons, my en jou ontwil. ‘n Mens kan mos nie groei en gedy sonder hoop nie. Maar hierdie eens blommende energie het begin taan. Noudat ek in die genade van ‘n onbekende nag lê en wag vir jou om soos ‘n reddingspan my uit hierdie puin van wanhoop uit te grawe, voel dit asof ek vir ewig in die lug hang. Dit is hoé vinnig jy die mat onder my uitgeruk het.

Vandag wil ek van hierdie hurt locker ontslae raak. Van vandag af gaan ek begin leef vir môre. Een ding sal my egter altyd bybly. Jy’t jou vingerafdrukke agtergelaat in my:

Gedig: brief

dit was nog altyd makliker
om die seer in ink te laat uitvloei
as om met gestolde dinge te lewe

soms kon ek die omgee sien
dit op my vel voel
as jou lippe op my kom lê

só moes jy seker voel
toe jy jouself oorgee
aan die streling van my hande

dit kon 'n lieflike nag gewees het
maar noudat ek lê
in die genade van 'n onbekende nag
(en wag vir 'n somber dagbreek?)

voel dit asof ek
vir ewig
in die lug
hang

só vinnig is die mat onder my
uitgeruk

©2010 Selwyn Milborrow

DRIE BRIEWE AAN MY "WIT ANTIE" ANNELIE


BRIEF EEN

Liewe antie Annelie. Dis ek, jou bruin broer. Dit voel soos gister toe ek laas vir antie geskryf het. Ek hoop dit gaan nog goed met antie en die ou Gryse in Northriding. Ai, die stories wat ek vir antie wil vertel! Ek kan nou nie soos antie stories in die teeblare lees nie, maar ek kan darem ‘n paar koppies saam met antie drink terwyl ek myne vertel.

Ek het die afgelope paar maande heelwat mense raakgeloop wie wou weet waarom ek dan nie meer in die koerant met antie correspond nie. Ek het tot dusver weggekom deur te smile en te sê ek is te besig met my eie struggles. Ek het besluit om maar te skryf want hier in Suid-Afrika raak die struggles nooit op nie. Ek was voor 1994 in die struggle, maar bevind myself nou in meer struggles as voorheen. Vandag rig ek my eerste skrywe sedert 2005 aan antie. Ek het intussen ‘n bietjie grys haartjies bygekry en hou hulle darem swart met die dye. Daar is mos inderdaad net een ou Gryse. Of hoe? Soos antie weet beleef ons elkeen maar sy eie alsbitter seisoene op hierdie lewenspad. Toe ek laas aan antie geskryf het was toe my pa oorlede is. Antie het seker ‘n paar maande gelede my rubriek gelees waarin ek oor my oorle pa skryf. Ek het intussen agtergekom die herinneringe oor ‘n gestorwe geliefde raak net soeter, en die pyn bietjie minder. Die klem natuurlik op “bietjie”.

As ek nou terugkyk na al die wyse woorde en advies wat antie met my gedeel het, besef ek van watter onskatbare waarde dit is. Dankie, antie. Het antie die afgryslike dinge oor die Livingstone-hospitaal gelees? Jirre, dinge het rêrig nie verander nie!
My pa het gedurende sy laaste dae op aarde in daardie dêm plek gelê. Vandag nog kom daar steeds ‘n woede in my op as ek dink hoe hulle my pa daar ge-treat het! Dis ‘n alsbitter pil wat niemand graag wil sluk nie. Genadiglik is daar goeie herinnering oor my pa wat vir my ‘n happy-pil sal bly.

Wanneer laas was antie daar? Ek onthou hoe disgusted antie was oor die bloed en pie op die hospitaal se vloere toe antie en die ou Gryse daar was. Daai Dora hospitaal is glo netso gevaarlik. My hart gaan uit na al die vroutjiekinders wat boeppens is. Die meeste verloor hul babies of hul eie lewens in daai plek.
Ek hoor nou die dag in die taxi ‘n omie vertel hoe die nursie hom ge-ghal het omdat hy sy vroutjiekind se baby gaan visit het. “Daai nursie vat ons ou mense vir moegoes. Sy dink net omdat ek ‘n hawker is en my vrou in die erf werk dat sy ons soos skroplappe kan treat. Mense soos daai dink mos net omdat hulle dik poste het hulle kan nie ge-fire word nie. I’ve got news for her! My oudste seun is ‘n dik ding by ‘n fabriek in die Baai. Hy gaan ons op sy medical aid sit,” spog hy soos 'n regte ticket. Ek is bly vir die omie, maar nêrens kry mens meer goeie nuus nie. Dis net aardbewings en tenders waar jy kyk. Die regeerders en geregeerders beskuldig mekaar in die koerante en op TV dat dit klap. Waar gaan alles eindig, antie? Dit voel asof my tong aan my verhemelte wil vassit van magteloosheid. Ek skryf oor ‘n paar weke weer vir antie. Dan vertel ek jou van die vergete heldinne van die Baai. Nag, ou Gryse.

BRIEF TWEE

Liewe antie. Ek wonder wanneer antie weer gaan blog. Almal het mos deesdae ‘n blog of b(l)oek soos Koos Kombuis sal sê. Ek update my blog wanneer ek ‘n kansie kry. Ek sien antie s’n was drie jaar laas ge-update. Dis so asof antie van die blog vergeet het? Dalk beweeg antie teen ‘n rustiger pas of verkyk jou aan die voëls op die spitsdakhuis se nokke. Ek onthou tog dat antie nie 'n mens vir stilsit is nie. Stilsit is mos bitter vir antie. Anyway, dis nie waaroor ek wil gesels nie.

Ek het onlangs ‘n bietjie navorsing gaan doen oor die goeie werk wat die ander anties in die gemeenskap doen. Sommige is in hul herfsjare, maar steeds doenig. Ek het gaan inloer by Waradeya Bosch, ons eerste bruin senior matrone by die Livingstone-hospitaal. Mens kan sien sy is nie meer aan die stuur van dinge daar nie; sy’t in 1997 afgetree. Volgende was Jumartha Majola, die ma van Gerald Majola, die president van S.A. Krieket. My volgende stop was by Lilian Diedericks. Ek het so baie aan antie gedink toe ek by haar gaan kuier het. ‘n Vrou van imborste, soos Oubaas sal sê. 'n Starlight in die donkerte. ‘n Oumagrootjie wat steeds vroegoggend by ‘n wasgoeddraad haar vrou kan staan. Dit is as gevolg van haar en baie ander dapper vroue dat ons vandag Vrouedag kan vier. Sy het die Oos-kaap verteenwoordig toe vrouens op 9 Augustus 1956 Unie-gebou toe gestap het. Vandag is sy steeds ‘n sterk en beginselvaste mens. Sy vertel my hoe sy haar kleindogter op haar een en twintigste verjaardag vermaan het om in die weë van die Here te bly. Sy het sommer net daar haar kleindogter se kêrel voor honderde gaste gewaarsku dat hy hom nie jags moet hou rondom haar kleinkind nie! Lilian het gelag toe sy die skok op my gesig sien.

Lilian het sakke en sakke sout opgeeët. Daai jare moes sy as voorwaarde op haar banning order vir meer as sewe jaar by die Korsten polisiestasie raporteer. Die sekuriteitspolisie was so vasbeslote om haar toe te sluit dat hulle besluit het sy moet weekliks by die Algoa Park polisiestasie gaan raporteer. Dit was meer as twintig kilometer van haar huis af! Lilian het elke week per voet deur bosse en grondpaaie gestap om uit die tronk te bly. Om te dink ander vroue het vir ontspanning gaan stap, maar sy moes vir haar lewe stap! Wanneer sy praat kon ek sien daar is nog pyn wat na die oppervlak dryf. Haar suster wie nes sy gelyk het, is in die sewentiger-jare op raaiselagtige wyse vermoor. Sy is oortuig die sekuriteitspolisie het haar suster met haar verwar.

Die kerk en haar vriende wou nie met haar verbind word nie omdat hulle bang was vir die goewerment. Sy kon nie na prysuitdelings en ouer-aande by haar kinders se skool gaan nie. Tog het Lilian nie haar rug op die kerk en haar mense gedraai nie. Sy wou nie met bitterheid in haar hart leef nie. Sy meen mens sal binne doodgaan as gevolg van die gif van jou eie bitterheid. Haar toewyding tot gelykte regte vir vroue is onlangs erken toe die Nelson Mandela munisipaliteit die Bristerhuis-gebou na die Lilian Diedericks-gebou hernoem het.

Nou kry ek ‘n blink idee. Antie doen so baie vir die letterkunde en die “Van alle kanters”. Hoekom verander die body corporate by Northriding nie die kompleks na die Annelie Botes kompleks nie? Hoe klink dit? Miskien moet ek antie se ou Gryse hieroor kom sien. Tot wederom.

BRIEF DRIE

Liewe antie. Die ander dag luister ek na Radio sonder grense se program, Loslip waarin inbellers gesels oor die dae toe families mekaar nog op Sondae middae kon gaan kuier. Deesdae durf niemand meer op Sondae tussen eenuur en vyfuur bel of kuier nie. Antie het self gesê dis ongeskik. Antie het seker net van vreemdelinge gepraat, of hoe? Mens verwelkom mos enige tyd jou eie bloed, al is dit op ‘n Sondagmiddag. Veral as dit jou ver-kinders is. Ek onthou antie se oulike storie van die ou gryse toe hy nog “mainspyker van die trustees was”. Die boorlinge van North Riding het sommer Sondae middae kom aanklop met klagtes of om advies te vra. Die ou gryse het dan dadelik sy broek uitgepluk, sy onderbroek skeef geskuif en gaap-gaap die voordeur oopgemaak. Ja-nee, weinig mense het dit wéér gewaag om op ‘n Sondagmiddag te gaan raad soek. Antie, ek soek raad op vandag. Hoe kry mens dat families weer mekaar op Sondae middae kuier? Is dit moontlik in hierdie digitale eeu? Of is Facebook, Twitter en al die ander sosiale netwerke miskien die nuwe Sondagmiddag kuier met familie en geliefdes? Tot wederom. Nag, ou Gryse.

©2010 Selwyn Milborrow

OM HUIS TOE TE GAAN (GEDIG VIR DIANA FERRUS SE PA)


om huis toe te gaan

(opgedra aan Diana Ferrus se pa)

om die veiligheid van jou huis
en klokkestemme van jou kroos
vir grofgeskut en loopgrawe te verruil

om oorlog toe te gaan
en as soldaat
tussen tenke en lyke te skuil -

wat 'n helstryd was dit nie …

laat hierdie kruis
my verbygaan
niemand streef
om ternouernood te leef

maar kyk, pa
jy hoef nie meer op vlug
te slaan -

oorlog hang nie meer
tussen son en horison
dit bly in aanhouding

want 'n halfeeu later
wandel vrede in stede
en systraatjies van die hart

om huis toe te gaan
met dié loutere vreugde -
jou lewe is gespaar

om huis toe te gaan
kinders op jou skoot te tel
en oorlogstories vertel -

dié droom kon jy bewaar
hoog op 'n toring in Aachen

©2010 Selwyn Milborrow

GEDIG VIR PATRICK PETERSEN (Ingesluit: Foto van Robert Pearce met Patrick Petersen)

elegie vir ‘n digter

(vir Patrick Petersen 1951-1997)

ek is ‘n doodgewone ou
wie die reënboogkleure meng
en ‘n huldeblyk verf
nét vir jou

só swaar om protes en pyn
deur jou pen te voel vloei
tog was dit vir joú
ver verhewe bo vers en kwatryn

noú wil ek jou prentjie skilder
op die doek van die mensdom
wat nooit sal afskilfer

want ál onthou ek
die gehuil van ‘n pen
versteen in ‘n oomblik
toe bloed en metaal meng
weet ek ook jỳ
kon jou oë in vrede sluit
met jou laaste huistoery

٭Patrick Petersen was ‘n dominee, digter en uitgewer. Hy het in ‘n motorongeluk gesterf op 6 Junie 1997.

©2010 Selwyn Milborrow


Met die vergunning van die digter, Robert Pearce, plaas ek sy gedig wat hy aan sy vriend en kameraad, Patrick Petersen opgedra het.

Patrick
(6 Julie 1951-7 Junie 1997)
"Inkie ek het nie goeie nuus nie, Pat is oorlede."(Ingrid Geldenhuys in De Kat)

Pat,
vertel my van daai pyn
wat so vlak lê in donker oë.

Vertel my van diep-inbors-geboesemde lag
wat weier om spontaan te ontspring.

Deel met my jou hartseer van onbeantwoorde liefde
Van 'n Dominee se dogter wat nie meer loop oor Pastorievloer.

Vertel my hoekom jy soos Holly en Valens
ook jonk moes gaan?

Is dit te veel gevra Broer?

Vertel my die pyn van 'n Swart Afrikaanse Skrywer
wat as halfnaaitjie (sic) misken was
asook hoekom jou "honderdjarige merk" as Skrywer
kort geknip is na 46 jaar?

Is dit te veel gevra Broer?

©28/10/97 Robert Pearce

DIE WêRELD IS ONS WONING NIE

Die wêreld is ons woning nie - (Rubriek)

Ek het onlangs ‘n artikel van Abel Kraamsaal met groot waardering gelees. Hierin skryf hy oor die brûe wat musiek tussen verre en nabye wêrelde help bou. In sy rubriek “Vrypostig” sê hy: “Musiek is die ritme waarop die hele wêreld vibreer. Musiek is wat wêrelde nader aan mekaar bring. Musiek is wat vir my die ver nader bring.” Hy is in die kol. Dis presies hoe biskop T.D. Jakes gevoel het toe hy Afrika vir die eerste keer besoek het. In Jakes se geval was dit egter nie musiek nie, maar geloof wat twee wêrelde nader aan mekaar bring. Biskop Jakes, is ‘n senior pastoor by die Potter’s House gemeente in Amerika.

Die muse het Abel Kraamsaal sowat twee en ‘n half jaar gelede vanuit die Kaap na die Baai gelok met beloftes van avontuur en “die onbekende wat agter die volgende bult wag.” Vir Jakes was dit geloof wat hom na Afrika gelok het. Vir hom het die onbekende toe heel bekend geword. Hier het hy gesien dat sy medemens tog ook mens is. Inderdaad twee wêrelde, maar dieselfde mense.

Soos baie ander Amerikaanse rolprentsterre het dit ook vir Jakes met sy aankoms by OR Tambo lughawe gevoel asof hy huis toe gekom het. Kraamsaal skryf: “Partykeer vang ek myself dat ek van die Kaap praat as huis. Gelukkig is daar vliegtuie, wat jou kan vat na daardie ander wêreld.” Die onbekende wat eintlik tog so bekend is.
Jakes het ook besef dat jy altyd mense sal ontmoet, maar die stories bly dieselfde. Jakes het glo gesê: “I’ve now been in South Africa for two days and the country has really impressed me. In general, South Africa’s tough history has left many people thinking that it’s just another impoverished and God-forsaken African country, but I can honestly say that South Africa has surpassed all my expectations. It feels like home!”
Vir ons almal is daar nou net een brug wat oorbly. ‘n Brug wat ons sal oorsteek en ons na ‘n mooier en vredevolle plek vat.
Apostel Paulus noem dan ook dat ons bywoners is op soek na ’n stad met fondamente. Met ons oë op die eindstreep gerig gaan ons uithou, moedhou en aanhou. “We will run to that crown that will last forever,” sê Paulus. Gepraat van wêrelde. Ek dink aan een van my pa se geliefkoosde aanhalings. My oorlede pa het altyd gesê: “I expect to pass through this world but once; any good thing therefore that I can do, or any kindness that I can show to any fellow creature, let me do it now; let me not defer or neglect it, for I shall not pass this way again.”

Daar is ‘n bekende gedig van Totius waarin hy reken die wêreld is ons woning nie. TD Jakes het sekerlik nooit Totius se gedig gehoor nie, maar dit klink asof hy saamstem met Totius se stelling. Vir Jakes gaan sy evangelie werke daaroor om ‘n brug te skep tussen hierdie wêreld en die Hemel. Dit maak nie saak waar Abel Kraamsaal, TD Jakes en ons onsself op hierdie aarde bevind nie, een ding is seker; ons is in hierdie wêreld, maar nie van hierdie wêreld nie. Ja, Hemel is ver hiervandaan, maar my geloof is wat die ver nader bring.

DI “COOL” SMS-TAL WT OS PRAT


VAN ALLE KANTE - DIE BURGER

“Hi bru. K wndr wmj vndag. Dux j of is j al op?” Ek kry ‘n hol kol op my maag. Is my taal besig om te sterf? Ek dink aan prof. Ampie Coetzee, emeritus-professor in Afrikaans aan die Universiteit van Wes-Kaapland, se voorspelling dat Afrikaans gaan uitsterf as onderwystaal. ‘n Donker vooruitsig! Ek kyk na die onleesbare SMS wat ‘n vriend my stuur. Of is ek dalk disleksies? Ek antwoord nie dadelik nie. Na tien minute kom nog ‘n SMS boodskap deur. Weereens onleesbaar. Ek bel hom. “My selfoon se skerm is seker weer opgeneuk want jou SMS’e is nie leesbaar nie.” Hy lag. “Jy moet “kom by”, broer. Dis SMS-taal. ‘n Man het te min airtime om lang sinne te skryf. There’s no time for airtime. Hoe korter, hoe beter. Ek kry anyway meer SMS’e uit soos daai!” Ek maak keelskoon. “O, ek hoor jou, maar ek sukkel om daai Latyns te verstaan...” Hy skree van die lag op die agtergrond. “Laat ek explain,” keer hy. “Hi k wndr wmj vndag. Dux j of is j al op?” beteken “Hallo, ek wonder wat maak jy vandag. Slaap jy of is jy al op?” Ek lees die SMS weer en verstaan meteens sy boodskap. “Nee, ek slaap nie. Ek is al douvoordag op want ek moet voor die einde van die week ‘n kortverhaal vir my uitgewer gereed hê. Die eerste en beste idees kom immers vroegoggend wanneer mens in voeling is met jou onbewustelike self. Is dan in staat om te delf in die rykdom van materiaal wat gedurende die dag begrawe word.” Hy skree weer van die lag. “Jy klink soos Paula van Sewendelaan, my broer!”

Later die dag kry ek weer ‘n SMS van hom af: “Bru wt mak ns di nawek? Of j leka ani slp?” Ek vuur 'n SMS boodskap af aan hom: “Fone me if u hav sometin 2 sy 2 me!" My sel lui. My “Latynse” vriend se nommer flits op die skerm. Ek kan sy gedempte lag hoor. “Jy kan mos lekker sms-taal gooi, broer!” Ek lag saam. “Stuur maar gerus nog van daai SMS’e na my toe. Ek wil ‘n volle rubriek doen in SMS-taal. Ek wil dit na ‘n koerant toe stuur.” Hy dink dis ‘n goeie idee aangesien dit meer jongmense sal lok om koerant te lees. “Dit gaan cool wees. Jongmense het nie altyd lus vir stywe Afrikaans nie. Afrikaanse SMS-taal kan dalk ook een van die land se amptelike tale word. Koerante is anyway vir jonk en oud bedoel,” voeg hy by. Later die aand bel hy en vra wanneer begin ek skryf aan my eerste SMS-rubriek. SMS-taal is cool, maar wat van Afrikaans? Basta! Hy meen ek is onnodig angstig oor Afrikaans se oorlewing. Maar beslis nie irrasioneel nie!

Die ontwikkeling van die internettegnologie het gelei tot die ontstaan van goedkoop en nuwe kommunikasiemiddele. Facebook en Twitter is op selfone beskikbaar. Ek begin toe hardop wonder: Is lesers gereed vir ‘n rubriek in SMS-taal? Is redakteure gereed? Ek reik na my selfoon en begin my SMS-dialek te oefen. Ek moet erken dat dié loslittige taal baie bevrydend voel. Selfoon-gebruikers glo mos immers dat SMS-dialek jou boonop tyd én geld bespaar. Ek dink weer aan die idee van ‘n rubriek in SMS-taal. Eendag wanneer daar so ‘n rubriek gaan verskyn, hoop ek dat dit myne sal wees.

‘N “HAPPY”-PIL WAT HIERDIE BITTER WEGVAT

VAN ALLE KANTE (Die Burger)

“Mens word soms geconfronteerd met het feit dat het leven niet dat materiёle is, maar geboorte, leven en sterven.” My Surinaamse skryfgenoot se woorde was soos ‘n langverwagte bries. Usha het haar pa ‘n week vantevore aan die dood afgestaan. Ek kon met haar verlies identifiseer. Ek onthou die boodskappe van medelye en bemoediging toe ek my pa sowat drie jaar gelede verloor het. “De herinneringen aan je vader blijven voor altijd bestaan,” skryf ek terug aan Usha. “Het was een mooie uitvaart,” antwoord sy nadat ek verneem of sy teenwoordig was met haar pa se heengaan.
Dit is inderdaad so dat herinneringe oor ‘n geliefde mens altyd bybly. Die herinneringe raak net soeter, en die pyn bietjie minder. Die klem natuurlik op “bietjie”.
“Het pyn om iemand die je verliest wordt nooit minder. Het wordt wel beter te verdragen als je je verliest met anderen kunt delen.”
Usha verstaan natuurlik ook dat soos met die heengaan van my pa, wil ek graag haar ook help “dragen” aan haar las. Sy benodig die “kracht in deze moeilijke tijd.” Ek skryf in my e-pos aan haar: “Ik kan maar een ding zeggen, de liefde die je vader in je hart heft geplant kan zelfs de dood je niet afnemen. Gedenk hom in je leven.” Sy belowe om my “adviezen op te volgen.”

As ek nou terugkyk na al die wyse woorde en advies wat my pa met my gedeel het, besef ek van watter onskatbare waarde dit is. Hy het geweier om ’n slaaf van oorlewing te word en nie sover te kom om net te leef nie. Al wat op die ou end oorbly, is mens se siel.
Daar is egter een wysheid wat my pa kennis van gedra het, maar nie kon verwesenlik nie: Mediese fonds! Drie jaar na sy heengaan kom daar steeds ‘n woede in my op as ek dink aan die swak diens wat my pa by die Livingstone hospitaal ontvang het. Swak dienslewering is ‘n bitter pil wat niemand graag wil sluk nie. Veral wanneer daardie pil die Livingstone-hospitaal is. Toe ek onlangs ‘n koerant oopmaak en lees oor die agteruitgang van hierdie hospitaal het die verontwaardiging weereens in my opgestoot. Tydens my pa se nagmerrie verblyf in die hospitaal is sy bril, horlosie en reukwater gesteel. Ons het dit aangemeld, maar geen ag is daarop geslaan nie.

Om met ‘n dokter te praat en te hoor watter behandeling hulle vir hom voorstel was ‘n moeilike taak. My pa is eers nadat hy na die Provinsiale-hospitaal oorgeplaas is, met kanker gediagnoseer. Hy is die volgende dag oorlede. My advies aan Usha het ek destyds toegepas; ek het hom “in my leven gedenk”. Usha is gelukkig om in ‘n land te woon waar uitstekende dienslewering en mediese behandeling ‘n alledaagse verskynsel is. Hier sal die slegte herinneringe oor die Livingstone-hospitaal ‘n bitter pil bly, maar die goeie herinnering oor my pa sal altyd my happy-pil wees.

GUN JONGMENSE HUL EIE STEM


My hart was en is nog altyd by jongmense. In ‘n vorige rubriek het ek oor die onderwerp van oudword geskryf. Daarin noem ek dat oudword nie vir sissies is nie. Vandag wil ek ‘n stelling oor die jeug maak: Jeugbediening is nie vir sissies nie. Ek haal my hoed af vir Elandra Schovell, ‘n dinamiese jeugleier by Grace chapel.

Meer as twintig jaar gelede het ek as jeugleier ‘n onuitblusbare passie vir jongmense gehad. Nog steeds. Glo my, energie is ‘n groot lokaas vir jongmense. Sommige meen te veel volwassenes sê hulle is lief vir jongmense, maar toon geen energie wanneer hulle oor en met jongmense praat nie. ‘n Jongman wie ek onlangs by ‘n winkelsentrum hieroor uitgevra het, se boodskap is duidelik: “Bly weg van ons af as julle nie regtig begrip vir ons het nie. Die wêreld waarin julle as jongmense geleef het bestaan nie meer nie.” Sjoe, hier is ’n generasie wat nie bang is om te sê dat hulle voel, maar op ’n ander manier nie. Hulle is nie vaak nie, soos Pastoor John altyd sê. Hulle is bewus dat indien hulle nog in dieselfde moeilike omstandighede bly as hul ouers tydens die struggle-jare, dit dien as daaglikse herinnering om ’n aktiewe rol in die samelewing te speel. Hulle eie geskiedenis op hul eie terme te vorm. Dit herinner my aan vriend Vincent Oliphant wat hom sowat ‘n jaar gelede midde-in ‘n Menseregtedag-viering bevind het. Dié geleentheid het gefokus op kinders se siening van menseregte, spesifiek húl regte, in die konteks van ’n gewelddadige samelewing. Terwyl hy daar na die jongelinge sit en luister het, het hy begin wonder oor watter reg vir hom die belangrikste is. Hy kom toe tot die gevolgtrekking dat dit die reg is om te word wat hy veronderstel is om te wees.

In die boek van Handelinge 2:17 staan daar geskryf: “... Ek sal my Gees uitstort op alle mense: julle seuns en julle dogters sal as profete optree; julle jongmense sal gesigte sien...” Trouens, jongmense is dus volgens God die profete van ons tyd. Moet ons nie liewer aan hulle die geleentheid gun om diensbaar te wees? Moenie hulle veroordeel en etiketteer nie. Ja, daar is jongmense in wie ons baie gaan belê, maar wat ons gaan teleurstel. Mens kan hulle nie blameer nie aangesien daar by elke jeugdagsaamtrek grootmense soos die politici is wat oorvat en kompeteer om te sien wie die meeste clichés kan rondgooi. Slagspreuke soos “the youth is the future” en ander twak word op elke moontlike televisiekanaal uitgebasuin. Geen wonder die jongmense meen niemand verstaan hulle nie. Bly liewer weg van hulle af as jy nie regtig begrip vir hulle het nie.

Trouens, die pad waarin jongmense vandag loop is vol opdraande en afdraande. Die ouer generasie weet presies hoe dit voel: “Been there, done that, got the t-shirt.” Daar is ’n groeiende behoefte onder jongmense om gesprekke te voer met ander jongmense. Gee aan hulle die geleentheid om diensbaar te wees. Laat hulle dit op húl terme doen. Die boodskap aan grootmense is: Gee jongmense die ruimte om hul stem op hul eie unieke manier hoorbaar te maak. Die jeug moet net onthou dit gaan nie net oor waarheen jy gaan nadat jy sterf nie, dit gaan oor die wêreld wat jy agterlaat wanneer jy sterf. Ons nalatenskap is netso belangrik. Kyk maar gerus na die potensiaal wat die “klas van 1976” ons help skep het.

GEE HIERDIE JAAR ÓM IN PLAAS VAN ÓP

VAN ALLE KANTE (DIE BURGER)

‘n Gebaar deur drie wyse manne duisende jare gelede op Kersdag, is verlede week deur miljoene Christene sowel as ander gelowiges as ‘n tradisie voortgesit. Om te gee – veral op Kersdag - is ‘n onbaatsigtige daad wat diep uit die hart kom. Ongelukkig sien ‘n mens dit nie weer totdat die volgende Kerstyd aanbreek nie. Die wyse manne se geskenke was nie net vir Jesus bedoel nie, maar ook as ‘n danksegging aan God omdat Hy sy seun as losprys gestuur het om ons vry te koop. My pa was lief om die liedjie “Why can’t everyday be like Christmas” te sing.

Van Kleintyd af het ek hom leer ken as iemand wie sy laaste pennies vir hulpbehoewendes sou gee. Elke dag was Kersdag. Vandag gee mense liewer op in plaas van om. Die Nuwejaar lê nou voor. Die bevoorregtes gaan die feestelike tyd tot duskant 2de Nuwejaar vier. Daar is ongelukkig sorgbehoewende kinders wat hierdie Feestyd liewer sal wil vergeet. Afgesien van Die Burger-Kersfonds en talle ander inisiatiewe is daar duisende minderbevoorregtes wat steeds met leё magies gaan slaap. Wat word van hulle? Dis waar die opportuniste toeslaan. Dwelmhandelaars, bendes en pedofiele. Hulle slaan munt uit die hulpbehoewendes se haglike omstandighede deur hulle te misbruik. ‘n Groot gebeurtenis soos volgende jaar se Wêreldbeker-sokkertoernooi, is maar een van talle geleenthede.

Sowat ‘n jaar gelede het ek ‘n storie vertel van hoe die Grahamstadse Nasionale Kunstefees as ‘n afsetplek vir hul dwelms en alkohol gebruik word. As boorling van Grahamstad, was die kunstefees vir Annie, ‘n tiener, ‘n soort Feestyd. Dis wanneer motors met vreemde numberplates Grahamstad binnery. Sy het dit eers vreemd gevind dat haar niggie ‘n ander houding inneem jeens die players wat hul dorp jaarliks op horings kom neem. “Die Josters met hul dik karre en vet wallets maak my siek,” het haar niggie gekla. “Julle province is mos die armste; so, wees dankbaar wanneer ons julle elke jaar ‘n financial injection kom gee,” het een van die players teruggekap.

Annie se niggie het ‘n jaar tevore ‘n ryk ou by die fees ontmoet. Hy was ‘n dwelmsmous. Dit was tydens haar onbeplande swangerskap dat sy verneem het sy is MIV-positief. Daar is iets omtrent die mans van Jo’burg wat Annie ook nie kon weerstaan nie. Dis asof die basklanke uit die karre se loudspeakers iets in haar kon losmaak en haar wild laat voel. Haar niggie het haar telkemale gewaarsku. Dieselfde naweek stel hy nuwe dwelms en alkoholiese drankies aan haar voor. Dit het ‘n euforiese uitwerking op haar, maar Aubrey het sy dosis verdubbel om die dieselfde gevoel van euforie te ervaar. Sy het opgelet dat hy gewig verloor het sedert sy hom laas gesien het. Hy was humeurig en kortaf. Die laaste dag van die fees het hy haar ge-drop. Hy is ‘n maand later dood aan Vigs. In my verbeelding sien ek die impak wat dit op Annie se lewe het: Haar gesondheid verswak en sy moet gereeld mediese behandeling ontvang vir ‘n onophoudelike hoes. Haar niggie is nie verbaas toe die kliniek haar inlig dat Annie ook MIV-positief is nie. Annie besef op haar siekbed dat voor jy kan ontvang, móét jy iets inruil daarvoor gee; sy het haar gesondheid verruil vir plesier van korte duur. Haar laaste boodskap aan ons almal is: Kom ons gee om in plaas van op.

ERFGELD EN LIEG-STORIES

Ons weet almal teen hierdie tyd dat president Zoempie inderhaas sy belange moes verklaar nadat hy die 60-dag spertyd gemis het. Die regerende party het wel verskoning gemaak, maar ook gevra dat die poligamis se omstandighede in ag geneem moet word. Volgens ‘n woordvoerder het hulle ‘n “spesiale saak in dié dat ons ‘n president met ‘n groot familie het en dus is dit nie maklik nie.” Gmf, dis nie net ‘n swak verskoning om goed skelmpies weg te steek nie, maar boonop geniaal van hom om nog ekstra tyd te vra om dit te doen!

Het ek julle lekker opgewarm nou? Ontspan maar, ek wil vandag oor iets anders skryf. Dit gaan eintlik ook oor mense wat andere se goed vat. Erflatings!
Dit en lieg-stories het sedert die Bybeldae al menig ‘n verhouding versuur. Dink maar aan hoedat Jakob vir Esau verneuk het.
As tjokkertjie moes ek al soveel maal hoor hoe ek eendag as oudste seun, erfgeld sou kry na my oupa se dood. Wel, die dood het gekom en die testament het gegaan! Dis ‘n kwessie van die erfgeld het seker beland in die hande van iemand vir wie dit nie bedoel was nie.

Toe Robert Pearce, hoofbibliotekaris by die Nelson Mandela- Metropolitaanse Universiteit onlangs Jan Rabie se boek Polemika, in my hand stop het ek aan die erflating herrie rondom die skrywer Andre P. Brink gedink. Wat ek hier met die lesers deel het niks met die persoon van Brink te doen nie. Kom ek begin by MC Botha se ope brief aan Brink.
Botha, ‘n eertydse buurman en lewenslange vriend van Jan en Marjorie Rabie kon nie verstaan waarom Brink - wat so goed met albei van hulle bevriend was - by wyse van spreke munt wou slaan uit hul nalatenskap nie. Hy skryf “wát jou rede is – ’n rede wat boonop in jou binnekamer klaarblyklik deur jou hoër geag is as dié van ’n waarlik geldlose skrywer – kan ek my nie indink nie.” Botha beweer Marjorie het vir hom gesê ná háár dood sal hul erfgeld in ’n trustfonds gestort en deur ‘n universiteit bestuur word sodat ’n behoeftige student jaarliks daaruit voordeel kan trek.

Na die lees van Rabie se Polemika, wonder ek hoe hyself hierop sou reageer. In sy boek (sowat vyftig jaar gelede geskryf) vat hy in van sy briewe, verskeie skrywers en academici aan. Ek sien in my geestesoog hoe hy óók Brink aanvat oor die redes waarom hy aansoek vir die beurs gedoen het. Ek sien hoe Rabie sy brief aan Brink afsluit: “so maklik is dit darem nie.”

Ek dink opnuut aan my oupa se erfgeld en wonder of ek nie ook dalk ‘n ope brief aan die blikskottel moet skryf wat my erfgeld gevat het nie. Maar aan wie rig ek dit? Wie is die Andre P Brink in my oupa se nalatenskap? Hopelik e-pos hy/sy my met redes waarom ek hy/sy dit gedoen het. Daar is die Malema-opsie: “Ek “weet nie” hoe ek die erflating gekry het nie”, of iets soos: “as enigiemand kan bewys dat ek iets verkeerd gedoen het, kan julle my in hegtenis neem.” My reaksie sal wees: “as jy jouself kan vergewe, kan ek jou vergewe.” Dalk antwoord ek iets soos: “so maklik is dit darem nie!”

ROBERT PEARCE: ACADEMIC, WRITER & MUSICIAN

Robert Pearce, akademikus, dramaturg, digter en musikant, het hom vroeёr vanjaar by die department Biblioteek-en-Inligtingsdienste van die Nelson Mandela Metropolitaanse- Universiteit (NMMU) aangesluit as Direkteur (Hoof) van die Biblioteek. Selwyn Milborrow het met hom gesels.

Robert Pearce was tot einde Maart vanjaar verbonde aan die Universitieit van Suid-Afrika se Biblioteekdienste as Direkteur Kliëntedienste - ‘n pos wat hy vir 9 jaar beklee het.
As Akademiese Bibliotekaris is hy goed toegerus vir sy taak by NMMU aangesien hy onder andere ‘n Meestersgraad in Biblioteekkunde en ‘n Diploma in Kliëntediens van Unisa het.

Hierdie man met sy vele talente is bekend vir sy dramas oor lewe in die bruingemeenskap. Sy drama–oeuvre strek oor byna vyf en dertig jaar. In sy graad 11-skooljaar het hy saam met Philip Louw, sy eerste drama, From hippie to normal: the story of sinners and the birth of Jesus Christ, geskryf. In teenstelling met Shakespeare se Macbeth, waarin die bewussyn van trauma met die voorstelling van ‘n indiwiduele personasie verbind word, verbind Pearce die ervaring van trauma in sy tekste met die indiwidu as lid van ‘n gemeenskap. Sy mees onlangse toneelstuk was, The charter (in search of quality, culture and service excellence), wat in 2007 in die Z.K. Matthews saal van Unisa opgevoer is en wat ook op DVD opgeneem is. In Pearce se toneeltekste is daar ‘n sterk teenwoordigheid van ‘n gemeenskapsbewussyn. Dit sluit onder andere in ‘n sterk plaaslike sosiale bewussyn van die voorkoms van dwelmmisbruik, prostitusie en bendebedrywighede.

Ek wou by Robert weet of daar vandag enigsins veranderinge ten opsigte hiervan in die gemeenskappe te bespeur is. Prof. JL Coetser het ‘n interressante artikel in die South African Theatre Journal gedurende 2008 gepubliseer getiteld: Gemeenskapstoneel deur Robert J Pearce: aspekte van bewussyn wat oor jou gemeenskapstoneel. In sy verkenning wat uit idees van Daniel Meyer-Dinkgräfe se monograaf getitel Theatre and consciousness: explanatory scope and future potential, asook verskeie ander tesisse kom, skryf hy van hierdie sterk teenwoordigheid van ‘n gemeenskapsbewussyn in jou toneeltekste.
Ek wou weet of bewusmaking van die plaaslike sosiale bewussyn steeds deel van jou toekomsplanne?
“Ja-nee, wie kan nou los skryf van jou voedingsbodem - jou gemeenskap wat ‘n kollektiewe geheue vorm. Selfs oud President Nelson Mandela in die voorwoord van sy boek A Prisoner in the garden verwys daarna:, hy sê, “the memory of an individual is founded in the collective memory”. Die oningeligtes oor kollektiewe geheue en bewussyn kan gerus die werke van Carl Gustav Jung en Etienne le Roux gaan lees.
Miskien sal dit verander, want die afgelope ses maande bevind ek my in Port Elizabeth, na ‘n leeftyd in Eersterust in Gauteng. Ek is juis besig om aantekeninge te maak oor kontraste tussen Port Elizabeth en Gauteng, soos byvoorbeeld die verskil in aksente, winkels wat hier vroeër sluit as in Pretoria, die reaksie op mense as hulle my sien in ‘n motor met ‘n GP registrasie, ensomeer. Die see en die minder gejaagdheid hier in Port Elizabeth is ook baie opletbaar.”

Pearce het skouer geskuur met die grotes in Afrikaanse literatuur-wêreld. Mens dink aan skrywers soos wyle Patrick Petersen, Adam Small, Peter Snyders, Diana Ferrus en vele ander. Watter skrywer het die grootste invloed op sy skryfwerk gemaak? “My betrokkenheid was ook al in die verlede by die Afrikaanse Skrywersgilde saam met Henning Pieterse en Zander Strachan, met Vernon February in Nederland, met Hein Willemse, Steward van Wyk, Peter Snyders en Adam Small deur die Swart Afrikaanse Skrywersbeweging (die struggle tydperk in Pretoria, Kaap, Paternoster en Vendaland), deur Speedro Produksies (ek en Anthony Speedo Wilson) en die betrokkenheid by voorgeskrewe werke vir skole van Kleurlingsake, met wyle Johan Combrink van Stellenbosch wat my geleer het om dinge te “doen vir Afrikaans” en nie net daaroor te praat nie.”

Wat van die kollektiewe geheue? “Ek is altyd (miskien selfs in my slaap) in my onderbewussyn in gesprek met Andrè P Brink, Koos Kombuis, Mzwake Mubuli, Patrick Petersen, Don Mattera, Dennis Brutus, Peter Snyders, Adam Small, Vernon February, Hein Willemse en my gemeenskap en dit weërspieel in my skryfwerk. Byvoorbeeld: Adam Small se Kanna hy Kô Hystoe en Joanie Galant-hulle (waarin ek rolle gespeel het) het die onderbou verskaf aan my drama: Die Laaste Supper in Marabastad; Andrè P Brink se Afrikaners is Plesierig het my geïnspireer om Die Meeting oftewèl vergadering te skryf. Koos Kombuis se liedjie: Sweet Paradise het aanleiding gegee tot my gedig: Lied vir Azania. Adam Small se gedig: Kitaar my Kruis en Frank Anthony se boek: Robben-eiland, my Kruis het my die titel van my gedig: My Taal my Kruis gegee. Na die lees van: Ek Daniel Marble, wat handel oor die Gangsters van Johannesburg, skryf ek: Die Laaste Marie-verhaal van ‘n Township Gangster.”

“My kortdrama: To Merge or not to Merge (2004) is ooglopend geleen vanaf Skakespeare se bekende: To be or not to be, uit Hamlet. My nuutste drama Doodstil: ‘n drama oor die dood vir die wat lewe, se titel is gegee deur ‘n begrafnisondernemer - sonder dat hy daarvan bewus was.” “Hoe dan so?” “Soos baie vroeë Afrikaanse skrywers is ek behep met die dood en begraafplase en was besig om die drama te skryf, maar kon nie ‘n titel vind nie. Ek stap toe verby die begrafnis-ondernemer (Ek noem hom in die Teks: Jakob Dood of Dooieman) se plek en hy sit droewig (hoe anders?) daar buite. Ek vra vir hom hoe gaan dit met die besigheid, en hy antwoord: “Doodstil!” Hy lag lekker. “Verder het ek ook terwyl ek die drama geskryf het, Zakes Mda se Ways of Dying gelees. Na die lees van Chris van Wyk se Shirley Goodness and Mercy, is ek besig om my Memoirs neer te skryf. Is ek dan net ‘n reaksionêre Skrywer?”

David Ernest, een van Robert Pearce se felste kritici, het sy Meestersgraad by die Universiteit van Pretoria in 2004 verwerf met sy tesis getiteld: Meaning in Small, Snyders and Pearce: an application of Lotman’s Semiotics to “coloured” literature. Hierin dui hy aan hoe die kollektiewe geheue en bewussyn regdeur die drama loop. Al drie dramas handel oor verskuiwings van mense onder die Groepsgebiedewet en sluit plekke in soos die Kaap en Pretoria. Die dramas is: Joanie Galant-hulle (Adam Small), Political Joke (Peter Snyders) en die Laaste Supper in Marabastad (Robert Pearce). Robert gesels oor Arthur Nortje, ‘n Baaise digter wat in ballingskap op die jeugdige ouderdom van 28 jaar, in Oxford gesterf het na hy vermoedelik ‘n oordosis slaappille geneem het. Een van Pearce se grootste bydraes tydens sy termyn by UNISA was die digitasie van die Arthur Nortje Papiere. Hy was dan ook die borg van die projek. Hy vertel bietjie meer hieroor. “Weereens moet ons nie die kollektiewe geheue onderskat nie. Dit is nie per toeval dat ek in Port Elizabeth (Arthur Nortje en Dennis Brutus se vormingsgebied) is nie. Ook is dit die plek waar baie van Athol Fugard se dramas afspeel. Tussen Arthur, Dennis en Athol se skrywery het ek in die 1980’s al bewus geraak van Port Elizabeth, sy mense en hul omstandighede. Ek het ‘n versameling van Arthur Nortje asook het ek kennis gemaak met Dirk Klopper (wat die Anatomy of the Dark bundle oor Arthur se poësie saamgestel het), Shaheed Hendricks wat ‘n wonderlike verhandeling oor Arthur geskryf het asook Hedy Davis wat die eerste verhandeling oor Arthur geskryf het. Shaheed was ook mede-outeur van South End as we knew it.

“Meer spesifiek oor my bewuswording van Arthur en sy poësie. As Openbare Bibliotekaris het ek in 1987 Arthur se Dead Roots (geredigeer deur Dennis Brutus) per geluk van die rak gehaal en begin lees. Die tragiek van sy lewe en die volwasse skrywery van ‘n 28 jarige het my dadelik aangegryp.
“Toe ek later by Unisa-biblioteek gaan werk en ook uitvind dat hulle in die argiewe Arthur se oorspronklikke handgeskrewe tekste en fotos het, was daar geen keer aan my blydskap oor die ontdekking nie. Ek ontmoet toe ook vir Dennis Brutus in 1995 en weer in 2006 en al waaroor ons kan praat is Arthur. Die personeel van die Argiewe by Unisa het aan my gerapporteer en ons besluit toe om Arthur se werke te digitaliseer en sodoende dit meer toeganklik maak vir die wye wêreld.” Dit was ‘n projek waaraan Pearce entoesiasties gewerk het. Onder sy leiding is hierdie droom in 2006 met die bekendstelling daarvan volbring naamlik: om Arthur Nortje se skrywes te globaliseer. “Wat seer maak is dat die onderwys en gemeenskapsleiers vir Arthur gefaal het. Baie min mense (selfs in Port Elizabeth) weet van diè groot skrywer wat geskryf het oor die lewe in Shauderville, Gelvandale, South End ensomeer. Sy klasmaats, ernstige skrywers en intellektueles van Port Elizabeth weet van hom, maar vra jy Jan-en-alleman, dan weet hulle niks. Selfs mense wat oorkant Paterson Hoërskool bly, weet niks van die seun van daardie skool wat in Engeland begrawe lê nie.”

Pearce het twee gedigte oor Arthur in Nederland gepubliseer: Kenneth Arthur Nortje (K.A.N) en Dood van Skrywers (in memoriam: Arthur Nortje, Bessie Head, Richard Rive en Ingrid Jonker). Hy meen almal wat bewus is van Arthur, sy lewe en sy skrywes het die taak om sy Oorskot na Suid Afrika terug te bring. As dit na 187jaar met Saartje Baartman kon gebeur, hoekom nie Arthur nie? Pearce hoop die Department van Kuns en Kultuur kan hier ‘n groot rol speel. “Jy en Patrick Petersen was nie net goeie vriende nie, maar julle het jul passie vir skryf gedeel. Patrick was bekend as ‘n versetdigter, dominee en besigheidsman. Jou gedig wat jy as huldeblyk aan hom opgedra het by sy begrafnis, lees soos ‘n biografie. Wat van Patrick staan vir jou uit en hoe sal jy hom graag wil laat onthou?” Hy glimlag vir ‘n oomblik. “Pat, soos ons almal hom genoem het, was ‘n Verenigde Gereformeerde Dominee en ‘n Orator. Daar is ‘n video-opname, die Sondag Digters wat Anthony Speedo Wilson vir die SABC gemaak het waar Patrick en die ander digters van die Ons kom van ver af digbundel praat en voorlees uit eie werke en daar kan ‘n mens luister na die groot Orator en Prediker. Pat het geen doekies omgedraai nie en was ‘n eerlike, deeglike skrywer en vakman. Ek het baie by hom geleer oor skryf en herskryf - nie slordig skryf as digter nie en ook om nie oneerlik te skryf nie. Hy het ook nie gewag vir die establishment Uitgewers om sy (en ander Swart Afrikaanse Skrywers) se gedigte te publiseer nie. Hy stig sy eie Uitgewery Prog, en gee sy eie en ander Aspirant Digters se bundels uit. Dit was uitsonderlik. Sy dood was ‘n groot verlies vir sy naasbestaandes, vir ons as sy vriende, die kerk en die Afrikaanse Skrywerswêreld.”

“Robert, in vorige onderhoude blyk dit dat tyd en ruimte vir jou belangrik is. In 2007 sê jy in ‘n e-posboodskap aan prof. JL Coetser, dat alhoewel Eersterust jou anker is, leef herinneringe aan voorstede soos Marabastad en Lady Selborne steeds in jou voort. Is dit nog so?” “Weereens, die kollektiewe geheue wat die onderbou verskaf vir my en menige ander skrywers se werke - nie die son, maan, of sterre (waar ons nog nooit was nie), maar die realistiese milieu - jou ervaringswêreld. As kind is ek verskuif deur daardie Groepsgebiedewet se toepassers vanaf Lady Selborne (wat as plakkerskamp geklasifiseer is en gesloop is), na Claremont (wat ‘n Sjinese gebied verklaar is), na Marabastad (Pretoria se eie Distrik Ses en South End) na Eersterust waar ons kinders steeds woon.” Volgens Pearce kan die gebondenheid aan jou “ruimte” jou ook kniehalter aangesien dit soms kreatiwiteit aan bande kan lê. “Miskien moet ek tog in die toekoms ‘n drama of gedig oor die maan skryf. Sal dit kan eg wees? Weet nie - glo ook nie. Oor eerlik skryf: so ‘n paar jaar gelede doen ‘n student ‘n onderhoud met my vir sy Doktoraat in drama oor waarom ek nooit ‘n gay-drama geskryf het nie. My antwoord was: “omdat ek nie ondervinding het nie.” Die navorser se bevinding was dat ek strewe na egtheid in my skrywes.

Prof. Ampie Coetzee, emeritus-professor in Afrikaans aan die Universiteit van Wes-Kaapland, het onlangs ‘n kontroversiele voorspelling gemaak dat Afrikaans as onderwystaal gaan uitsterf. ‘n Donker vooruitsig inderdaad. “Robert, jy en Afrikaans kom al sedert jou kleintyd aan. Hoe voel jy oor Afrikaans as ‘n taal wat deur oorwegend bruines en wittes gepraat, gelees en geskryf word? Kan ek dit waag om jou te vra hoe die toekoms van Afrikaans vir jou daartoe uitsien?” “Ek ken Ampie van UWK se dae af en hy, Hein Willemse en Steward van Wyk doen wonders vir Afrikaans. Ek kan nie saamstem met Ampie nie. Ek dink Afrikaans (in al sy vorme sal voortleef) en sonder om paternalisties te klink, het ons as Afrikaansprekendes ook ‘n rol te speel in die aanhelp van die ontwikkeling van die ander Swart amptelike tale. Verder, ons kinders is Afrikaans en ons kleinkinders van die ouderdomme 13, 7, 4 en 2 jaar praat Afrikaans. Hopelik sal hulle ouers hulle ook na ‘n Afrikaanse skool stuur, so daar is jou voedingsbodem vir ‘n volgende geslag Afrikaanses. Interessant ook is dat ons twee kleinkinders ook Sotho vlot praat. As Saketaal sal Afrikaans ook nie verdwyn nie, want as jy hoor hoeveel Indiër en Sjinese Sakemense Afrikaans praat word dit onderstreep, want geld het sy eie kleur - nie wit of swart nie.”

Hoe lyk die toekoms vir Robert Pearce? “Nog meer skryf, kitaarspeel, lesings oor en in die Afrikaanse taal lewer asook ‘n doktorsgraad in Biblioteekkunde doen.”
Toe ons groet dink ek aan ons onderhoud as ‘n sirkelslot van ‘n drama - oortuigend gemotiveer deur die treffende uiteenlopenheid van Robert Pearce se karakter. Soos Pearce hoop ook ek dat sy boodskap sal praat met die lesers se koppe én harte.

LANGDOWN SKILDER MET OLIE EN SY HART

AMOS LANGDOWN skilder met olie – én sy hart. Hy is volgens een van sy voormalige kunsstudente, Selwin Pekeur, ’n briljante leermeester en wonderlike kunstenaar. Pekeur is die hoofkunstenaar op Die Burger se Suidoosterfees, wat van vandag tot oormôre in Kaapstad in die Kunstekaap-sentrum plaasvind.

Onlangs het Pekeur gesê: “Langdown het nooit die erkenning gekry wat hy verdien het nie.”
“As iemand ’n bewys soek van die helende krag van geloof, kan hulle gerus vir my kom vra,” sê Langdown en glimlag beskeie. Twee jaar gelede is longkanker by hom gediagnoseer, en hy het dié siekte ’n ruk gelede oorwin. Hy is besonder dankbaar om weer te kan skilder. Langdown en sy vrou, Edie, het groot lof vir die personeel van die Greenacres-hospitaal, waar hy behandel is.
Edie sê: “Dis lekker om te sien hoe prentjies in sy kop tot lewe kom in soveel kleure en vorms.”

Langdown skilder hoofsaaklik mense in hul daaglikse omgewing. Veral vroue en kinders staan sentraal in sy werk.
Waarom gebruik hy juis olieverf? “Dis nie net olieverf nie, maar die hart ook.”
Opvallend is sy sin vir humor en passie vir sy werk. Dat kopers gereeld terugkom, is ’n bewys van die gewildheid van sy werke. Ons was juis besig om te gesels toe ’n gereelde koper bestellings kom afhaal.

Langdown is op Plettenbergbaai gebore en het sy kunsopleiding aan die Zonnebloem-kollege in Kaapstad ontvang, waarna hy in 1963 in die skone kunste gaan studeer het aan die Rijks¬aka¬de¬mie van Beeldende Kunsten in Amsterdam. Hy was later dosent aan die Dower-opleidingskollege in Port Eli¬zabeth, waar Pekeur een van sy studente was.
Langdown stem saam dat alles begin by die vermoë om te teken. Dis ’n gawe van God. Hoe langer ’n mens met hom gesels, hoe meer besef jy dat hy reeds dekades gelede erkenning gekry het vir sy werke.

“Ek was al uitgenooi om van my skilderye in München, Uganda, New York en Londen en op die Venesiese Biënnale uit te stal. Van my werke is opgeneem in versamelings in Duitsland, Italië, Holland en die Smithsonian-instituut in Washington. Plaaslik is van my werke onder andere in die Alice–kunsgalery in Johannesburg uitgestal.”
Sy skeppings is in verskeie kunsboeke – soos Art and Artists of South Africa (Esmé Berman) en Zebra Register of South African Artists Galleries, Volume 3 – opgeneem. Langdown het illustrasies gedoen vir die skrywers Alba Bouwer, Pieter Grob¬belaar en Hester Heese asook vir die digter P.J. Philander.

Philander was Langdown se laerskool-onderwyser, en hy noem hom steeds “Meester”. Philander, nou woonagtig in Amerika, het Langdown onlangs kom besoek. “Die trane het behoorlik gerol,” terg Edie. Die Bruin Kokon, waarin hy die digkuns van Philander illustreer, het in 1965 die lig gesien.
Langdown se eerste uitstalling was in 1964 in die Edrich-galery op Stellenbosch – ’n eerste vir ’n bruin skilder. Bekendes in die literêre wêreld het die opening van die uitstalling bygewoon. Op ’n foto staan Langdown langs skrywers soos S.V. Petersen, Jan Rabie en W.A. de Klerk, wat ’n glasie op sy toekoms geklink het.

In 1966 het hy die Arts of Fame and Promise-prys verower. Vandag kan Langdown op ’n kleurryke loopbaan terugkyk.
’n Bekende glanstydskrif beplan om binnekort van sy werke in een van sy uitgawes te plaas. “Ek maak ’n goeie bestaan deur my skilderye,” sê hy tevrede.

Glad nie sleg vir iemand wie al jare gelede afgetree en die stryd teen longkanker gewen het nie. Daarvan kan die skilderye wat in sy portaal vir nuwe eienaars wag, getuig.


©2009 Selwyn Milborrow

LANGDOWN HET DIEP SPORE GETRAP

PORT ELIZABETH. – Die bekende skilder Amos Langdown is vandeesweek in die ouderdom van 75 oorlede. Hy het vermoedelik weens ’n hartaanval beswyk nadat hy ’n jaar gelede longkanker oorwin het.

Langdown is op Plettenbergbaai gebore en het hom later in Port Eli¬za¬beth gevestig, waar hy dosent aan die Dower-opleidingskollege was.
Selwin Pekeur, een van sy studente wat vroeër vanjaar die hoofkunstenaar op Die Burger se Suidoosterfees was, het onlangs gesê: “Langdown het nooit die erkenning gekry wat hy verdien het nie.”

Langdown het sy kunsopleiding aan die Zonnebloem-kollege ontvang, waarna hy in 1963 in die skone kunste¬ gaan studeer het aan die Nederlandse Akademie vir Beeldende Kunste in Amsterdam.
Van sy skilderye is onder meer in München, op die Venesiese Biënnale en in Uganda, New York en Londen uitgestal. Werke van hom is ook opgeneem in versamelings in Duitsland, Italië en Nederland asook in die Smithsonian Institute in Washington.

Plaaslik word van sy werke tans in die Kühne-Boekkooi-galery in Port Elizabeth uitgestal. Heidi Kühne, eienaar van dié galery, sê Langdown se dood is ’n groot verlies aangesien hy soveel spore getrap het in die kunswêreld en in die harte van mense.
Sy werke is opgeneem in kunsboeke soos Art and Artists of South Africa (Esmé Berman), en Zebra Register of South African Artists Galleries, volume 3. Hy het ook boeke van skrywers soos Alba Bouw¬er, Pieter Grobbelaar en P.J. Philander geïllustreer.

Philander, ’n bekroonde Afrikaanse digter wat verlede maand in die ouderdom van 84 in Amerika oorlede is, was Langdown se laerskool-onderwyser en het hom aangemoedig om in die kunste te studeer. Die Bruin Kokon (1965), ’n bloemlesing van Philander se digkuns geïllustreer met Langdown se kunswerke, was die eerste van dié aard deur bruin kuns¬tenaars. Sy eerste uitstalling was in 1964 in die Edrich-galery op Stellenbosch – ook ’n eerste vir ’n bruin skilder. Bekendes soos S.V. Petersen en Jan Rabie het destyds die opening bygewoon.
Lorette de Vos, ’n kunskonsultant wat jare lank met Langdown bevriend was, sê hy was ’n besonderse kunstenaar en ’n mens met ’n goeie humorsin.
Toe hy jare gelede gevra is waarom die vroue in sy werke nie glimlag nie, wou hy weet watter mens glimlag as jy ’n bondel hout op jou kop dra.

Hy sal onthou word as een van die nederigste skilders in ons land. Sy heengaan is ’n groot verlies vir kuns in Suid-Afrika. Hy word oorleef deur sy vrou, Edie, ’n dogter, Nadia, en drie kleinkinders.


©2009 Selwyn Milborrow

HULDE AAN DIGTER - P.J. PHILANDER

“MEESTER is weg.” Dit was Amos Langdown se eerste woorde aan Selwyn Milborrow toe hy die tyding van Peter John (P.J.) Philander (1921-2006) se dood ontvang het. ’n Onderwyser-leerling-kunstenaar-vriend¬skap van langer as 50 jaar het tot ’n einde gekom.

Philander (84), ’n bekroonde Afri¬kaanse digter en skrywer, is verlede Dinsdag in Amerika oorlede.
Langdown, ’n bekende skilder van die Baai, was vroeër ’n laerskool-leerling van Philander aan die St. Peter’s Engelse kerkskool op Plettenbergbaai in die Oos-Kaap.

Langdown – wat steeds na Philander verwys as “Meester”– vertel dat hy ’n briljante, maar ook streng skoolmeester was. “As ons stout was in die klas, het Philander altyd gewaarsku dat hy die duiwelsdrek uit ons gaan foeter.” Volgens Langdown het Philander hom aangespoor om verder in die kunste te studeer.

Philander het dekades gelede oorsee gaan woon. Volgens sy stiefseun, Ronnie Harker, is hul ma, Alice, in 1988 oorlede.
Philander is op 25 November 1921 op Caledon gebore. Hy was later hoof van die Hoërskool Belgravia in Athlone, Kaapstad.
Sy eerste digbundel, Uurglas, wat gedigte soos “Lente” en “Haar Uitvaart” ingesluit het, het in 1955 verskyn. Daarna volg die bekroonde digbundel Vuurklip in 1961. ’n Erepenning van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns is in 1964 aan hom toegeken. In 1968 emigreer hy en sy gesin na New York, waar hy van 1968 tot 2000 onderrig gee, onder meer in Afrika-studie, aan die Friend’s Academy, ’n Kwaker-skool op Long Island.

Toe Langdown in die sewentigerjare vir Philander in Long Island gaan besoek, was hy (Philander) baie nostalgies oor sy geboorteland. Hulle het een aand langs die eetkamertafel gesit en gesels tot dagbreek. Toe die son opkom, sê Meester vir hom: “Weet jy, Amos, die een ding wat ek baie mis van Suid-Afrika, is die gekraai van hane vroeg in die oggend.”

Maar die afstand het hom gehelp om oor sy ervarings in Suid-Afrika te skryf.
Daar was glo ook planne vir die heruitgee van Die Bruin Kokon, ’n geïllustreerde bloemlesing met Philander se digkuns geïllustreer met Langdown se kunswerke.
Dié boek is in 1965 gepubliseer. In die voorwoord het die digter I.D. du Plessis geskryf dat verse wat op bepaalde tekeninge deur ’n Kleurling-kunstenaar gebaseer is – in dié geval grafiese werk – en verse deur ’n Kleurling-digter, ’n samewerking met ’n baie besonderse betekenis is, want dis twee mense wat ’n gesamentlike boodskap wil oorbring, ’n boodskap wat in hierdie eeu waarin rasseverhoudings die allesoorheersende probleem geword het, meer as verbygaande belangstelling verdien.

Trouens, dit bly tot vandag seker een van die moois geïllustreerde bloemlesings wat in Afri¬kaans uitgegee is.
Rebunie, ’n roman gebaseer op sy ondervindings as onderwyser in die vyftigerjare, het in 2000 verskyn. Trialoog, een van sy laaste digbundels, is geskryf tydens sy verblyf in New York. “Wat baie nie weet nie is dat, hoewel hulle in Amerika gebly het, my ouers steeds Afrikaans met hul kinders gepraat het,” vertel ’n hartseer Harker.

Volgens Philander se oudste seun, Dennis (’n siel¬kun¬dige), het sy pa se gesondheid in Desember skielik begin agteruitgaan ná ’n ligte hartaanval. Hy het sedert 2002 by sy jongste seun, Peter, ’n mediese dokter in Las Vegas, gewoon.


©2009 Selwyn Milborrow

VINCENT OLIPHANT SE VERSE VLOEI NOG STERK


"Kleur is nie ‘n brandmerk nie; kleur is mooi. Kleur, met of sonder "-ling", is móói…" Selwyn Milborrow het met digter Vincent Oliphant hieroor asook sy digbundels gepraat.

Vincent Oliphant se woordgevoelige verse weerspieël die broosheid van die mens. Dit laat jou met ‘n gevoel van magteloosheid en terselfdetyd ook hoop vir die mensdom. Die temas in sy gedigte is van so 'n aard dat mense hulle daarmee kan vereenselwig.

Hy debuteer in 1983 met Bloed vloei in stilte (Tafelberg) en in 1998 verskyn Die sagte vlees (Tafelberg) wat goeie blootstelling kry danksy die tv-sepie Sewende laan, asook die tv-joernaalprogram Pasella. Hy is tans kurrikulum adviseur by die Departement van Onderwys.
Ek wonder wanneer kom daar ‘n nuwe bundel uit sy pen. ‘n Bundel wat soos welkome reëns die droogte kom breek.

Die volgende oggend bel ek Oliphant en is gelukkig om ‘n onderhoud te reël. Afgesien van sy werk by die Departement van Onderwys, gee hierdie man in sy vrye tyd klas by die Nelson Mandela Metropolitaanse Universiteit. Hy is ook besig met navorsing in wiskunde-onderrrig. Oppad na sy huis wonder ek wat sy indrukke rondom die derde Swart Afrikaanse Skrywersimposium, en die taaldebat is. Dit was juis by die heel eerste simposium waar die tonge geklap het oor Oliphant se bundel Bloed vloei in stilte omdat dit nie protes-poësie was soos van swart skrywers van daardie tydperk nie.
"Ek was te besig met ‘n struggle van my eie," glimlag hy nederig.

In sy eerste bundel is die aanwesigheid van moeder en broer baie opmerklik. Hoe verskil dit van Die sagte vlees?
"Bloed vloei in stilte was baie na binne gerig; Die sagte vlees daarenteen meer gebalanseerd, meer volwasse."
Wat inspireer hom om te skryf, of verander dit soos mens ouer word?
"Dit bly nog grootliks dieselfde: Liefde, verlange, verlies… die romantiese temas."
Lees hy ander skrywers, en indien wel, wat lees hy?
"Ja, van my gunsteling skrywers is Milan Kundera, John Updike en Andre P. Brink ."
Hy het onlangs saam met sowat 130 Afrikaanse skrywers sy steun aan die beswaarskrif teen dubbelmediumonderrig by die US toegesê. Ek wou weet of die bestaan van Afrikaans bedreig word en of Marius Titus in die kol is met sy gedig "Skryfwerk" waarin hy sê:

"Soe, die beste manier omme taal te bewaar is:
Liesit, praattit, skryffit, ontginnit en bedryffit.
Net soelank jy my verstaan
stap skryf en taal ‘n lang pad saam."

"Ek is nie deel van die totale aanslag denkskool nie. Ek dink nie dat Afrikaans, of enige ander taal, moedswillig benadeel word nie. Benadeling kan egter ‘n onbedoelde gevolg wees. Verder is ek ten gunste van inisiatiewe wat ons veeltalige erfenis beskerm. Taal is immers nie net ‘n kommunikasie medium nie; dit is ook ‘n draer van kultuur. Dit is teen hierdie agtergrond dat ek die beswaarskrif gesteun het."

Na aanleiding van sy brief wat onlangs in Rapport verskyn het lei mens af dat hy trots is om "bruin" en "kleurling" genoem te word. Daarin sê hy "Kleur is nie ‘n brandmerk nie; kleur is mooi. Kleur, met of sonder "-ling", is móói…".

Dink hy daar is belangstelling onder bruines wat hul taal en identiteit betref, en is daar stemme wat opgaan vir 'n ontluikende bruin nasionalisme?
"Ek hou nie van die idee van etniese nasionalisme nie. Dit klink te veel na laer trek, en impliseer ‘n ons-teen-hulle houding. Ek het in my artikel ‘n positiewe inhoud aan bruinwees of kleurlingwees probeer gee. Die negatiewe konnotasies wat aan ons as ‘n groep mense geheg word, soms selfs vanuit eie geledere, het my die laaste tyd gesteur."
Hoe dan so, Vincent? "Ek vermoed dat die voortgesette teenkanting teen die benaming kleurling daarmee te doen het dat die term gemengdheid impliseer.
Gemengdheid word dan, miskien meestal onbewustelik, teenoor suiwerheid gestel. Ek is egter van mening dat gemengdheid of hibriditeit iets positiefs kan wees omdat dit dui op ‘n wyer, ryker herkoms. Ek sou bly wees as ons intellektuele en ander meningsvormers die oormatige sensitiwiteit rondom hierdie kwessie wou laat vaar."

‘n Hoogtepunt vir hom was in 1996 toe hy genooi was om aan die jaarlikse Poetry International Fees in Rotterdam deel te neem. Vir my is hierdie onderhoud met Vincent Oliphant beslis ‘n hoogtepunt in my lewe.
Soos in sy poësie, probeer hy leerlinge se ervaring van wiskunde as vak sover as moontlik vermenslik. Toe ek groet besef ek Vincent Oliphant is bloot ‘n reisiger wie deur sy skryfwerk die reis vir andere so maklik moontlik wil maak.

Hy is digter, akademikus, man, pa, maar bo als is hy mens en medemens.
‘n Uittreksel uit sy gedig "woorde" gee ons ‘n goeie blik van die mens Vincent Oliphant:

"my woorde het nie die byt
van koeëls en grofgeskut nie
nee
my woorde kan bloot bid
en pleit
en wens
medeburgers van die lewe
dat ons van grense sal vergeet
en bloot mens sal wees
en medemens…"

Robert Pearce, Vincent Oliphant, Willem Fransman Jr, Billy Paulsen


Copyright 2010 Selwyn Milborrow

BEMAGTIGING DEUR DIE WOORD



Die Afrikaanse Skrywersvereniging (ASV) neem van 24 tot 27 September 2009 aan die Northern Arts-fees hier in Port Elizabeth deel. ’n Skryfslypskool op Erfenisdag en ‘n woordkunsprogram is deel van die opwinding wat op feesgangers wag. Selwyn Milborrow het gesels met Willem Fransman Jr, voorsitter van die vereniging, oor die “fees van woorde” en oor die miskende Baaise kunstenaar Amos Langdown.


Willem Fransman jr, die dramaturg, akteur, storieverteller en skrywer, is deurgaans betrokke by kunstefeeste en in die gemeenskap. Dit kan maklik beskou word as ‘n velenging van die oproep tot 67 minute se gemeenskapswerk ter viering van die eerste wêreldwye Mandela-dag. Sy betrokkenheid by die derde jaarlikse Northern Arts-fees hier in Port Elizabeth is nog een van daardie geleenthede waar hy en ander gevestigde skrywers hul deel vir die gemeenskap kom doen.

Op Erfenisdag, bied hulle ’n skrywerswerksessie aan oor die skryf van gedigte, kortverhale en dramas, en storievertel. “ ‘n Fees van woorde”, verduidelik hy sy beskouing van die fees. “Die ASV beplan om deur middel van die kort kuns - die digkuns wat die kroon op die mens se kreatiewe denke is - nuwe belangstelling onder die publiek te bring. Die digkuns is dikwels bevrydend omdat, soos Lord Byron, opgemerk het: “For man to become a poet, he must either be in love or miserable!”
“Die digter werk dikwels tussen hierdie twee emosies. Daarom vereenselwig mense hulle so maklik tot die digkuns.”

Volgens Fransman jr wil die groep graag besienswaardighede in die omgewing besoek, met die hoogtepunt ’n besoek aan die huis van die Baaise kunstenaar, Amos Langdown. Langdown en die digter P.J. Philander het in 1965 die boek Bruin Kokon die lig laat sien. Dit is ‘n geïllustreerde bloemlesing met Philander se digkuns en Langdown se kunswerke. Hierdie boek is uniek in die lig daarvan dat dit illustrasies deur ’n bruin kunstenaar en verse deur ’n bruin vervat.
Volgens baie kenners is dit buitendien een van die moois geïllus¬treerde bloemlesings wat nog in Afri¬kaans uitgegee is.
“Ek onthou dat ek enkele maande voor Langdown se dood met hom oor sy skilderkuns gesels het. Toe ek hom vra waarom hy juis olie¬verf gebruik, was Langdown se antwoord: “Elke keer as ek my kwas in olieverf doop, doop ek dit as't ware in my siel! Dis nie net olieverf nie – ek skilder met my hart ook.”
Fransman jr noem Langdown juis ‘n “skilder par excellence.”
Dit word algemeen aanvaar dat Langdown ‘n briljante leermeester en wonderlike kunstenaar was wat nooit die erkenning gekry het wat hy verdien het nie.
Hul reis na Port Elizabeth beskou hy as ‘n “pelgrimstoer na die wêreld van Amos Langdown”, en dit is vlogens Fransman jr juis ‘n manier van erkenning aan hierdie ontslape skilder. “Natuurlik was Langdown een van ons champions en ‘n baanbreker.”

Wat is Fransman Jr se beskouing van die feit dat kinders van vandag nie meer daardie lewendige boomklim-avonturiersgees het nie? Het dit dalk bygedra tot die gebrek aan belangstelling in die skryfkuns onder jongmense?
“Ek doen dikwels besoek by skole waar ons oor veral voorgeskrewe werk in Afrikaans praat.
Ek wens mense kan die uitdrukkings van die jongmense sien wanneer hulle verstaan waaroor kreatiewe werk werklik gaan.”

Hy hoop die toer gaan die stimulis wees vir jong skrywers om aktief betrokke te raak. “Daar is egter steeds ‘n kommerwekkende aspek: jong seuns lees baie minder as jong meisies. En hulle daag ook minder op by die werksessies!”
In sy hoedanigheid as voorsitter van die ASV, het hy gevestigde skrywers daarvan beskuldig dat hulle nie uit hul eie wil help om beginnerskrywers te bemagtig nie.
“Dit is ons Godgegewe taak om die liefde vir die poësie te kweek - en waar beter as op ‘n kunstefees?
Dis besonder belangrik om ‘n leserspubliek geprikkel te kry en dan van hulle kopers te maak. “Daar bestaan nog nie juis onder ons mense die kultuur van eie boeke koop nie.” Daarom is dit ideaal om op só ‘n fees mense bewus te maak en ‘n liefde vir boeke by hulle aan te wakker.

“Ek is verby die punt om gevestigde ouens (skrywers) te soebat. Langenhoven het gesê: “As jy kla dat die geselskap wat jy het, sleg is, maak dan dié wat jy het, goed.”
Dit is wat ons moet doen.

JOURNEY (GEDICHT)

“Voelen doe je niet met je hoofd. Luisteren doe je niet met je mond.” – Usha Marhé*


is it a sweet spring day
as you sit next to the road
in a strange country?

what’s in the bag next to you
is it filled with rainbows & hopes
does the city’s inner heart hear
your dreams of a better tomorrow
have you written it down in your journal
for years later to ponder on?

go on
lay your dreamy head on your hand
& enjoy the bird’s-eye view


*Usha Nalinie Marhé is a writer and journalist originally from Suriname, till 1975 a former Dutch colony in South America. In 1990 she migrated to The Netherlands. As a freelance-journalist Marhé continues to publish articles and columns, in well known Dutch papers and magazines as Opzij, De Groene Amsterdammer, Vrij Nederland en Onze Wereld. She interviewed the Indian Bollywood megastar Amitabh Bachchan (for the daily paper Trouw), which she considers to be a milestone in her career. In 1993 she is nominated for the ASN-Mediaprijs, later renamed into the Zilveren Zebra Mediaprijs (Silver Zebra Media prize).

©2009 Selwyn Milborrow

DANS MET KATRINA٭


toe 'n wolkvuis uit die see marsjeer
en om new orleans toemaak
volg sky en cnn se kameras
die vloedgolwe deur strate
van ‘n voorwêreldse moeras

jy het begin plunder en verkrag
jou waardes tot die been ontbloot
want oral dra jy in jou saam
‘n saad van haat en dood

gaan dit ooit tot jou deurdring
hoe ‘n dringende boodskap ek aan jou wil bring?

mensdom, gaan jy ooit leer om my te respekteer?

kyk, ek is die groot gelykmaker –
moedernatuur is my naam.


٭ ‘n Kategorie-vier-orkaan wat New Orleans, Louisiana, Mississippi en Alabama in 2005 getref en tot grootskaalse skade en lewensverlies gelei het.


©2009 Selwyn Milborrow

GEBED VAN SARAH BAARTMAN

in ‘n land van beskaafdes
was jy as frats ingehok
en moes jy wag, suster baartman
vir die vloek om weg te gaan:

"Jirre, ek is een van djou tjeeners
maarie mense hille algar sê ek is ‘n goggatjie
moetie lat hille my seer- of doodmakie"

maar as verlange jou byt
kon jy gaan na ‘n beter plek
met jou kaalvoet-gebed:

"Jirre, as djy weer reënbooggoggatjies stuur
om te kô kyk of dit genôg gereentit
sê hille ‘seblief om my te kô haal"

toe ferrus* jou oorskot vanuit
die koue daar anderkant bring
en jou vel die afrika-son voel
het ons hulde gebring:

"Jirre, vindag wil ons trug report –
daar’s niks meer om oor te stry
of te wonner oor vergewe en vergeetie…"

want sara ís vry
sý is vry
sy is vrý


* Diana Ferrus is welbekend vir haar gedig oor Sarah Baartman. Haar gedig "Vir Sara Baartman" is gepubliseer in die Franse wet wat spesiaal gemaak is om Sara se terugkeer moontlik te maak.

Hierdie gedig verskyn ook op die webtuiste: http://www.tablemountainconnection.blogspot.com/. "The website is the brainchild of the writers of South Africa and Suriname crossing the lines of continents. Our words connected on the Table Mountain of Cape Town, South Africa. A warm, intensive and energetic exchange only seperated because of different continents. Words we had to share, explore together. A natural outcome of our friendship, connected in words and language. Table Mountain Connection, the beginning of more to come between writer friends. An idea of Willem Fransman, Karin Lachmising, Elias Nel and Marieke Visser."
©2010 Selwyn Milborrow

DIE SKILDER (GEDIG)


("As I dip my brush into paint, I dip it into my soul and he who cannot appreciate this, does not have a soul. - Amos Langdown* 1930 - 1996)

vrouefigure beur teen die wind
in ‘n ander ‘n ma met haar kind

só kon jy nog altyd met ‘n kwasstreep
die lewe se kaalvoetmerke afmeet

buite teen ruite teken reёndruppels
kontoere deurweek in kleure

nóú wil my woorde
jou op hiérdie doek verf

want elke keer as dit reёn
word verf verwaterde trane
wat wegsink in Plet** se duine

stil is die skilder se hand


٭ Amos Langdown was ‘n bekende skilder van Port Elizabeth, Suid-Afrika. Hy het die skone kunste aan die Rijks-akademie van Beeldende Kunsten in Amsterdam, gestudeer. Hy was later dosent aan die Dower-opleidingskollege in Port Eli¬zabeth.
Sy skilderye is al in München, Uganda, New York en Londen en op die Venesiese Biënnale uitgestal. Van sy werke is opgeneem in versamelings in Duitsland, Italië, Holland en die Smithsonian-instituut in Washington. Hy het illustrasies gedoen vir die skrywers Alba Bouwer, Pieter Grob¬belaar en Hester Heese asook vir die digter P.J. Philander. Die Bruin Kokon, waarin hy die digkuns van Philander illustreer, het in 1965 die lig gesien. Die Bruin Kokon, is volgens baie kenners seker een van die moois geïllustreerde bloemlesings wat nóg in Afrikaans uitgegee is.

** Plet, is ‘n afkorting wat inwoners van Plettenbergbaai gewoonlik gebruik wanneer hulle na hierdie kusdorpie verwys. Amos Langdown is hier gebore.


©2009 Selwyn Milborrow

BRIEWE UIT DIE TRONK (GEDICHT)

“I am not myself / until my blood / is infused with you / in all of my veins” uit: "Gronmama" deur Trefossa, Surinaamse digter.

i
Mams
stemme tussen gister en vandag
ego tussen mure

my enigste innocence
‘n baby photo teenaan my bors
maar moenie huil nie –
ek’s ge-rehabilitate
ek kom binnekort uit

ii
Babes
ek verlang jou
ons break ups en make ups
hoe sê daai song nou weer:
you’ve got to break up to make up

ek wil jou vat vir long walks
en myself soak in jou
maar somehow worry ek
dat ons flame gaan kwyn
of met ‘n tronk riot verdwyn

iii
Here
perform een van jou miracles
want ek’s ge-rehabilitate
for Christ’s sake
kry my uit hierdie hel uit

©2009 Selwyn Milborrow

ONTHOUD JE NOG? (GEDICHT)

"weet je nog hoe we samen
hand in hand uit de schoolpoort kwamen
onafscheidelijk vrienden voor altijd?" – V. Vrindts*

nog voor die hemel vanaand
in suidelike afrika afdaal
wil ek hierdie gedig offer
aan 'n vriend en digter

want daar sal tye kom
wanneer die kliek van isi-xhosa
ons zuid-afrika/belgië band oproep

daar is altyd die genade
dat ons die skrywerspen
kan opneem


*Veerle Vrindts is een Vlaamse schrijfster van jeugdboeken. Vrindts schreef op haar dertiende haar eerste boek: Geheime Vrienden. Met dit boek won ze bij de schrijfwedstrijd Matildaprijs. In 2002 kreeg ze als eerste veertienjarige de trofee van Kinder- en Jeugdjury Vlaanderen in de categorie 10-12 jaar. In 2003 verscheen haar tweede boek, een poeziebundel met de titel Donker bij hemelsblauw en in april 2006 haar voorlopig laatste jeugdroman Niet meer dan lucht, een verhaal voor 14-plussers over een anorexiapatiënte. Momenteel studeert ze Cultuurwetenschappen en Psychologie aan de Universiteit van Maastricht.


©2009 Selwyn Milborrow

WINTERNAGGEDIG



buite ontbloot winter
druppels verlange hang halflyf teen ruite

selfs siel en stem is windverlate
laat dit maar waai waar
en hoe dit wil —

hier binne verwinter gedagtes donssag

vannag word ek gemummie
in die warmte van vrouwees
word ons hartslae een
met die ritme van die witwarm winternag

ek weet dat dit ons sal bind
nog voor die aand in stilte
wegsink

©2009 Selwyn Milborrow

LOVE'S POEM


ok. how then do you expect
me to react
when there is such serenity
about you?

that’s all I wanted to tell you

no, wait! how then do you expect
me to react
when i just want to love
and be loved?

that’s all I wanted to tell you

yes! I have nothing else
but this memory of what is
and forever will be
love’s poem

©2009 Selwyn Milborrrow

ELEGIE VIR 'N DIGTER

(vir Patrick Petersen 1951-1997)

ek is ‘n doodgewone ou
wie die reënboogkleure meng
en ‘n huldeblyk verf
nét vir jou

só swaar om protes en pyn
deur jou pen te voel vloei
tog was dit vir joú
ver verhewe bo vers en kwatryn

noú wil ek jou prentjie skilder
op ‘n doek wat nooit sal afskilfer

want ál onthou ek
die gehuil van ‘n pen
versteen in ‘n oomblik
toe bloed en metaal meng
weet ek ook jỳ
kon jou oë in vrede sluit
met jou laaste huistoery

©2009 Selwyn Milborrow

٭ Patrick Petersen was ‘n dominee, digter en uitgewer. Hy het op 6 Junie 1997 in ‘n motorongeluk gesterf.

ELEGY FOR MRS BOSMAN


"hoe krij ik weer bijeen wat ik
in het voorbijgaan achterlaat" - Miriam Van hee

hearing you play piano
stirred something inside
something deeper in thought

was it their songs too –
the people in pictures on walls
faces you look at until eyes tires?

does the music ring a bell –
is it a waltz with someone dear
maybe for a loved one lost
or a lost one loved?

their names cling to your lips
like scents of lavender
yet the answers are unclear

somehow i know each moment
and note holds something dear
when you journey at night
to a place where everything
becomes clear

©2009 Selwyn Milborrow

NET JY

met net die trek
van my mond of oë
weet jy iets pla

en as jy vra
is ek laaste om te glo

om te dink die tyd maak
dat gister in 'n waas
verby dryf

en nou kan net jy voel
as 'n storm kom woel
in hierdie lyf

hoe anders, lief
net jy ken my hart
die drange en verlange
wat daaruit spoel

©2009 Selwyn Milborrow

BESLAN, 1 SEPTEMBER 2004 (GEDIG)

met stram treë
keer hulle terug skool toe
en vanuit nêrens marsjeer
skadus klaskamers binne

ma’s se liefdevolle omhelsings
word genadige grepe
en bang kinders
bewende riete

nou jare later
met die afdruk van terreur
skrikstil in ons gegrafeer
hoor ons steeds ‘n kreet –

wie sal hul dood wreek?

mag ouer en kind
nóóit weer geoffer word
op ‘n lafaard se skinkbord

©2009 Selwyn Milborrow

NIEMAN SAL JE ZEGGEN WIE JE BENT (GEDICHT)


“schrijf je wat je ziet en niemand sal het lezen en je zeggen wie je bent”
– Miriam Van hee

om te dink
jy’t tot onlangs
(lank gelede?)
my nog herken

snaaks hoe mens
vertroosting verlang
noudat tyd soos kole
die werklikheid terugbrand

daar staan jy toe
soos tevore
met ‘n hand vol boeke

hekke van herkenning
val voor jou voete
en ons begin die honger stil
met digterlike herkoutjies

vol van beelding
en van metafoor
groet ons later

al wat bly
tussen jou en my
is vingermerke
op eybers se winter-surplus

©2009 Selwyn Milborrow

BLAUW MAANDAG

Ik ben normaal heel enthousiast
tog vandaag een beetje ziekerig
mijn klasgenootjes vond dat grappig
en zeg hullie hebben slechte dingen
gehoord uit België

Ik ben normaal heel enthousiast
maar ik zei niets vandaag
en wandelde naar huis
om beter te worden tegen Maandag

©2009 Selwyn Milborrow